Hou vas. Hou uit. Hou aan. Hierdie is die woorde wat die afgelope tyd by my opkom. Jy sien, dit was weer tyd vir my om te reflekteer op my reis van wees, werk en leef. Ek is gelukkig genoeg om die ruimte en gunstige omstandighede aan my kant te hê om wel die oefening te kan doen.
Daar is seker diegene van julle, wat soos myself, as gevolg van die Covid-19- pandemie ’n paar drastiese skuiwe moes maak. My nege-tot-vyf-werk was skielik iets van die verlede. In die plek daarvan was dit ekself wat my skedule vir ’n dag moes beplan en maak werk. Vir die eerste keer tydens en ná die pandemie moes ek leer om vinnig aan te pas. Geleenthede vir myself skep en dit maak werk. Was dit enigsins ’n probleem om my nuwe realiteit te omarm? Glad nie, want dis waarvan ek nog altyd gedroom het.
Nou het ek die vryheid om te droom en om my drome in ’n werklikheid vir myself en ander te omskep. Aan hierdie nuwe manier van dink en doen is daar so ’n stuk bevryding gekoppel wat jou daagliks laat uitsien na die volgende avontuur wat wag. Soos met enige nuwe seisoen en ervaring kom daar ook die kere dat jy soms twyfel of soms wonder of dit nou eintlik die beste rigting was om in te slaan. Veral daai kere wanneer jy op jou laagste is – emosioneel, fisiek en geestelik. My nuwe werklikheid hou my ure voor ’n rekenaar. Weg van die geselskap van kollegas in ’n tipiese kantoor-opset. Weg van daai bietjie skerts en lag van tyd tot tyd. En as dit dag ná dag, week ná week en maand ná maand dieselfde patroon volg, is die moontlikheid daar dat dit jou iewers kan vang.
Ewe skielik mis jy daai tye toe jy wel deel was van ’n organisasie, kollegas by ’n vergadering, die lekkerlag oomblikke en somtyds die lekker ontlaai-sessies by ’n kollega oor die genadelose verwagtinge en spertye waarby bygehou moet word. Jy begin dink en mis sommer daai een kollega wat jou enige tyd van die dag of nag die harnas kon injaag. En dan die wonder – moet ek nie dalk maar weer teruggaan na dit wat eens was nie? Die vraag kom teen die agtergrond van jou huidige realiteit van op eie stoom voort te stu. Dan onthou ek, nie so lank terug nie, het ek myself in ’n virtuele onderhoud- situasie bevind. Een van daai poste waarvoor ek aansoek gedoen het en eintlik al van vergeet het. En toe skielik die onverwagse onderhoud. Ek stem in. Sal mos nie skade doen nie. Dis in daai oomblik dat ek opnuut besef het dat dit beslis nie die rigting moet wees waarin ek moet beweeg nie. Ek sou my huidige vryheid en vrede moes prysgee om net weer te proe wat ek alreeds ondervind het. Ek is dankbaar dat ek nie die werk gekry het nie. So dankbaar!
En as ek nog ’n keer my eie rigting en roete moet bepaal en nog ’n keer my eie tydlyne moet respekteer dan doen ek dit sonder om twee keer te dink. ’n Maklike pad is dit gewis nie, maar beslis die moeite werd. Meeste van die tyd is daar nie die skares wat jou aanprys en motiveer nie. Tyd en plek vir selfbejammering is daar ook nie op hierdie nuwe reis van my nie. Nee, dis ’n pad van vroeg uit die vere kruip, doen wat gedoen moet word en altyd seker maak dat daar iets in jou dag is waaroor of waarvoor jy kan skaterlag.
Die reis waarop ek myself bevind het my ook kom leer dat jy dankbaar moet wees vir die enkeles in jou lewe wat van tyd tot tyd daai sommer-net-boodskappies stuur om te hoor hoe dit met jou gaan. Daai enkeles wat opreg belangstel in jou welstand as persoon. Glo my, op my nuwe reis het ek al oorgenoeg van die teenoorgestelde kant gesien en beleef.
Daai kere as jy ’n boodskap uit die bloute ontvang. Dis iemand van wie jy lanklaas gehoor of gesien het. Jy raak opgewonde, want dis nou ’n aangename verrassing. Net om die volgende oomblik uit te vind dat dit nog iemand is wat soek vir ’n guns van een of ander aard. Wel, selfs dan is dit orraait, want ek het op die harde manier geleer om die kaf van die koring te skei.
Die mense wat wel saakmaak op my huidige reis heg ek groot waarde aan. Skryf ek die res af? Nee, glad nie, want ons is maar almal op een of ander wyse op mekaar aangewese. Meer nog is ek dankbaar vir al die verskillende kante van die legkaart, want dit hou my nederig, ontvanklik om nog te leer en uiteindelik tot seën te wees vir ander. My refleksietyd het my opnuut kom bewus maak van die feit dat ek alles het wat nodig is om my reis met durf en dapperheid voort te sit.
Hou vas. Hou uit. Hou aan.





