Maria Appollis (85) het haar herinneringe neergepen in haar boek Kind van die Oukloof. Foto:


Maria Appollis van die Swartland het haar dryfkrag en deursettingsvermoë gebruik om te wys dit is nooit te laat om jou drome te bewaarheid nie.

Oorspronklik ’n boorling van Springbok in die Noord-Kaap, is Tannie Marais, soos Appollis bekend is, deesdae in Riebeek-Kasteel waar sy haar jare terug kom vestig het.

Op 82-jarige ouderdom het Tannie Marais haar eerste boek die lig laat sien deur selfpublikasie. Sowat twee jaar gelede het sy André Smith, onder andere rubriekskrywer vir Weslander, genader om haar skryfwerk onder die oog te plaas en haar te help om dit in boekvorm te publiseer.

“Ek het nog nooit ’n persoon so gedetermineerd gesien om ’n droom van haarself waar te maak nie. Dit was asof daar ’n stuk dringendheid aan haar versoek aan my was. Asof dit die een ding is wat sy nog wil sien gebeur voordat sy haar aardse hoofstukke sal afsluit,” sê Smith.

Tannie Marais vertel: “Ek sukkel nou al vir jare dat iemand my moet help om hierdie skryfwerk van my in boekvorm te plaas. Ek is baie lief vir skryf en het oor die jare heen al my gedigte en woordsketse veilig bewaar. Baie mense het beloftes gemaak om my te help, maar elke keer was ek teleurgestel. Dis my een groot droom om my eie boek te publiseer.”

Met Smith se redigering van Tannie Marais se manuskrip het hy die “ongelooflike talent en passie” van dié Swartlander ontdek. Smith verduidelik Tannie Marais se skryfstyl is opreg en op die man af. “Mens bespeur ook die sensitiwiteit en deernis waarmee sy haar gedigte en woordsketse benader. Dis asof elke skets en gedig gemik is op ’n spesifieke persoon en gehoor. Dis asof sy vir elkeen van hierdie persone ’n duidelike boodskap wil nalaat. Daardie boodskap is intiem, warm, met opset en daarop gemik om die individu tot beter insigte te bring.

“Dis asof agt dekades se ervaring, omgee en liefde vir ander in die teks geproe kan word. Sy skroom nie om die koue en haar harde onthou-jare te verwoord nie, maar doen dit met ’n hart wat vrede gemaak het met ’n pynlike verlede. Haar gebruik van humor in haar boek word ook ruimskoots met die leser gedeel,” meen Smith.

In Kind van die Oukloof neem sy lesers op ’n reis deur haar lewe. Oukloof was die gebied in Riebeek-Kasteel wat destyds, tydens die apartheidsjare, direk deur gedwonge verskuiwing geraak is.

“As leser stap jy saam met haar as kind deur die strate van Oukloof en ruik en proe jy alles wat sy so raak beskryf – van die strooibale waarvan matrasse gemaak is tot die heerlike kweperlanings waar hulle as kinders kon speel. Haar boek laat vir die huidige generasie ’n skatkis van lewenswyshede, humor en mooi herinneringe na,” verduidelik Smith.

Smith sê hy hoop ander sal in Tannie Marais se voetspore volg en nooit ophou droom nie. “Deur die boek bewys sy dat alles moontlik is as jy net bly hoop, glo en vertrou. Selfs op die rype ouderdom van 82 – wat ’n prestasie!”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article