Om lewensverlies te vermy, verligting vir gemeenskappe en infrastruktuur is die fokus van die plaaslike regering ná die onlangse stormweer wat die Weskus getref het.
Teen Maandag (19 Junie) was verskeie eiendomme langs die Bergrivier in Velddrif onder water. Die bekende Bokkomlaan, op die oewer van die rivier, is die afgelope naweek gesluit weens oorstromings. Volgens die Bergrivier-munisipaliteit sal die laan vir eers geslote bly.
Oorstromings in die Bergrivier-riviermonding en vleiland het vele boere en inwoners genoodsaak om vir waterskade gereed te maak.
Die sluise van die Bergrivier-dam is verlede Donderdag geopen toe die dam toe reeds 102% vol was. Maandag was dié dam 103,4% vol.
In andere dele van die Weskus is opruiming- en herstelwerk reeds aan die gang. Volgens dr. Ivan Meyer, Wes-Kaapse LUR van landbou, is die gevolge van die reën beslis ’n ramp. “Hier in die Weskus is 39% van die werksmag betrokke in landbou. Ons hoofprioriteit is om lewens, maar ook inwoners se lewensbestaan te beskerm. Weens die skade aan infrastruktuur kan boere nie hul produkte uitvoer nie wat gevolge vir die hele landbou-waardeketting het,” het Meyer verduidelik.
Meyer het Maandag saam met onder meer Boffie Strydom, burgemeester van die Weskus-distriksmunisipaliteit, terugvoer gegee oor die stand van sake in die streek.
Strydom het gesê hoewel die reën welkom is het die oorstromings met vele probleme gekom. Die meeste skade is in die Cederberg en Matzikima munisipale gebiede aangerig.
Werk aan die R303-pad na Citrusdal het vandeesweek begin en was onder die paaie in die Cederberg wat weggespoel het weens die stormweer.
Meyer sê benewens die impak op plaaslike gemeenskappe is daar rede vir kommer wat landbou betref. Suid-Afrika is die tweede grootste uitvoerder van sitrus, naas Spanje, en Meyer sê dit is uiters belangrik vir boere om hul vars produkte na die buiteland te kry.
“Die provinsiale waarde van landbou is jaarliks tussen R48 en R50 miljard. Ek is seker ons sal ’n daling sien weens die oorstromings,” meen hy.
Jannie Strydom, van Agri Wes-Kaap, sê benewens die sitrus is daar kommer oor die aartappel-oeste. Hy sê gelukkig het boere in die streek reeds hul graan geplant, maar besproeiing van landerye is nou ’n uitdaging aangesien dit onder water is.
Hy sê egter ná jare van droogte is die hoër damvlakke tog goeie nuus vir die sektor.
Terugvoer en moontlike planne vir die pad vorentoe is gister (Woensdag) aan die Wes-Kaapse regering gegee.
Na afloop van hierdie vergadering sal gebeurlikheidsplanne beraam word, het Meyer verduidelik.





