Die DNS-toetse het getoon dat die oorskot wat in ’n man van Klawer se drein gevind is, wel dié van die vermiste 13-jarige Jerobejin van Wyk was.


Die menslike oorskot wat in die drein van Daniel Smit (56) se huis in Klawer gevind is, was wel dié van die vermiste 13-jarige Jerobejin van Wyk.

Die DNS-toetse is na Vredendal geneem vir ontleding, waar Jerobejin se familie oor die uitslae ingelig is.

Jerobejin het op Woensdag 2 Februarie verdwyn. Volgens bronne het Smit die seun agternagesit omdat hy na bewering mango’s in Smit se tuin gepluk het, waarna hy verdwyn het.

Sy liggaam is glo in stukke gesny, verbrand en by die drein afgespoel. Smit se saak is tot 26 April uitgestel. Hy het reeds glo skuld beken. Hy word in die Vanrhynsdorp-tronk aangehou en het nie om borgtog aansoek gedoen nie. Die nuus dat dit wel die 13-jarige Jerobejin van Wyk se oorskot is, het ou wonde in die gemeenskap oopgekrap vir twee ander families wat steeds wonder wat van die agtjarige gestremde Jeneva Diergal en die 28-jarige Janine Bottom, wat in 2019 verdwyn het, geword het.

Volgens ’n betroubare bron kon die polisie nie die twee se verdwyning met Smit verbind nie.

Smit het egter wel by monde van sy prokureur glo erken dat hy nog moorde gepleeg het, maar beweer dit was in Seepunt. Die bron meen as hy dié bekentenis aan sy prokureur gemaak het, sou hy erken het as hy by die ander twee se verdwyning betrokke was.

Volgens ’n bron van die Seepunt-polisie is dit onbekend of die verdagte wel vier mense daar vermoor het, aangesien hy eers uitkennings sal moet kom doen.

Die bron het bevestig dat geen oorskot of liggaamsdele gevind is om Smit se erkenning te staaf nie.

Jerobejin word Saterdag uit die Klawer-gemeenskapsaal begrawe en sal die gemeenskap die geleentheid bied om met waardigheid van hom te kan afskeid neem, sê Billy Claasen, ’n gemeenskapsaktivis.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article