‘Oorbevolking en onvoldoende elektrifisering in armer woonbuurte lei dikwels tot brande’

Lede van die gemeenskap en die brandweer blus ’n brand wat in George Kerridge uitgebreek het.


Brande en brandbeserings kan grootliks voorkom word.

Patrick Kulati, die uitvoerende hoof van die Huishoudelike Energieveiligheidsvereniging van Suid-Afrika (Hesasa) het in ’n onlangse persverklaring gesê brandgevaar is ’n groot bedreiging in Suid-Afrika – veral in armer gemeenskappe.

Volgens Kulati is die hoë voorkoms van brande in minderbevoorregte gemeenskappe weens “die instroming van mense na stedelike gebiede, lukrake stedelike ontwikkeling, oorbevolking, onvoldoende elektrifisering van huise in lae-inkomste-gemeenskappe, paraffien en biomassa-brandstof wat as die primêre energiebronne gebruik word, en ’n gebrek aan doeltreffende voorkomende en opvoedkundige programme”.

Weslander berig gereeld oor brande wat in informele woonbuurte ontstaan waar sinkhuise dikwels baie naby aan mekaar opgerig is. Dit beteken dat meer as een struktuur of woning gewoonlik in een brand vernietig word, en meer as een huisgesin hul wonings en besittings verloor.

Huise en winkel brand

Só ’n brand in ’n lae-inkomste-woonbuurt het Maandag 5 Desember vinnig met drie informele strukture in George Kerridge, Vredenburg, klaargespeel.

Volgens omstanders op die toneel van Maandag se brand, was die eienaar van die drie informele wonings, wat teen mekaar op ’n erf staan, nie tuis toe die strukture aan die brand geslaan het nie.

Die gemeenskap het die brandweer bygestaan om die vlamme te help blus.

Die mense wat in die strukture gewoon het, is nie beseer nie, maar het die meeste van hul besittings verloor.

In Suid-Afrika raam ’n mediese navorsingsraad-verslag dat 3,2 persent (1 600 000) van die land se bevolking jaarliks brandwonde opdoen, met die meerderheid wat uit armer gemeenskappe kom.

Nog ’n brand het Saterdag 3 Desember in ’n winkel in Hoofstraat, Vredenburg, ontstaan. Die brand het blykbaar in die dak van die winkel begin. Brandweerpersoneel het egter die brand geblus voordat dit na die res van die winkel versprei het. Niemand is ook hier beseer nie.

Die oorsaak van die brande is nog onbekend.

Voorkom brande só

Kapt. Tania Helfrich, ’n woordvoerder van die Weskus-polisiedistrik, het die twee voorvalle bevestig en gesê hierdie gebeurtenisse is die ideale geleentheid om weer die kollig op brandgevare te werp, sodat tragedies hierdie feestyd verhoed kan word.

Helfrich maan inwoners om nie kerse, paraffienlampe en konkas in klein ruimtes onbeman te laat brand nie.

Volgens die plaaslike brandweerdiens word die meeste brande deur nalatigheid veroorsaak. Sigarette, aanstekers, kerse en verwarmingstoestelle kan dodelik wees as dit sonder toesig brand of aangesteek is.

Die stad Kaapstad het die volgende veiligheidswenke uitgereik: . Hou ’n oog op jou paraffienstoof. Moenie dit naby ’n venster met ’n gordyn gebruik nie.. Klein handjies is lief om aan goed te peuter. Maak seker jou stoof nie kan omval as ’n kind daaraan trek nie. Dit kan ’n brand veroorsaak of kinders beseer.. Maak seker dat kerse nie kan omval nie. Moet nooit gaan slaap met ’n kers wat nog brand nie.. Sigaretstompies wat weggegooi word, hou ook ’n brandgevaar in.. Wees bewus van die gevare van onwettige of foutiewe elektrisiteitsverbindings, wat ook brande kan veroorsaak.. Hou altyd ’n emmer water byderhand sodat jy vlamme maklik kan blus. . Hou ’n emmer sand in die huis om brande wat deur paraffien veroorsaak is, te blus. . Bou woonhuise ’n veilige afstand (minstens 3 m) uitmekaar om te verhoed dat brande versprei. Maak seker dat hierdie ruimte tussen die huise skoon en oop gehou word.. Leer kinders oor die gevare van ’n vuur. . Hou te alle tye paaie en toegang tot woonplekke oop.. Moenie paaie met besittings blokkeer as daar ’n brand is nie.. Probeer om uit die pad van lede van die brandweerdiens te bly sodat jy hulle nie verhinder om hul werk te doen nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article