Coenraad Cornelius du Bois, bekend as oom Coena, het sy laaste asem op Maandag 20 Mei uitgeblaas.
Du Bois is op 22 Junie 1933 in Vredenburg gebore en is op die ryp ouderdom van 90 jaar oorlede. Hy was alombekend vir sy rol en betrokkenheid by die Vredenburg-posduifklub. Volgens sy seun Alwyn du Bois het sy pa omtrent elke posisie in die bestuur beklee.
Alwyn meen die klub is in 1942 gestig en sy pa het vir omtrent 54 jaar duiwe gevlieg tot en met 1995 toe sy gesondheid hom verplig het om halt te roep.
“Daarna het hy maar net in die bestuur gedien tot omtrent 2017 toe ek hy hom oorgeneem het as tesourier,” vertel Alwyn. Du Bois het ook vir Vredenburg-rugbyklub gespeel en was ook erelid van die klub tot met sy afsterwe.
Alwyn beskryf sy pa as saggeaard, maar ook streng.
“As hy nie saamgestem het met ’n besluit nie het hy dadelik van hom laat hoor.” Wat hy die meeste van sy pa gaan mis is sy vriendelikheid, snaakse sêgoed en ook dat hy uit sy pad uit sou gaan om te help as hy kon. Hoewel Alwyn nie kinders het nie, het hy en sy pa ’n hegte band gebou met ’n jong man met die naam Pieter de Villiers. Pieter het dit op homself geneem om Du Bois oupa te noem en vertolk so te sê die rol van broer vir Alwyn. “Hy was ’n mense-mens. Soos vroeër gesê sou hy uit sy pad gegaan het as hy iemand kon help. Ek dink Vredenburg is beslis ’n groot gees armer noudat hy nie meer met ons is nie.”
Du Bois laat sy een seun en drie susters agter.
Die roudiens het op 30 Mei by Huis Wittekruin plaasgevind.





