Die Vredenburgse kunstenaar Hannelie Niewoudt se eerste “naamlose” bootskildery. Foto:


Op die ouderdom van 12 jaar het Hannelie Niewoudt begin kunstig raak. Wie sou raai dat potloodsketse die grondslag sal lê en eendag in pragtige natuur-kunswerke ontaard?

Dié Vredenburgse inwoner maak gebruik van oliebasis- en akrielverf as medium. Niewoudt vertel sy geniet dit om met die medium te werk. “Akriel is my gunsteling aangesien dit nie so lank neem om droog te word nie,” vertel sy.

Sy bied ook raad aan wanneer dit kom by die medium. “Probeer as ’n beginner eers akriel as medium, dit maak minder van ’n gemors en word vinnig droog. Wanneer jy met olie as medium werk en jy is maar nog ’n beginner, dan is alles op en rondom jou vol olieverf.”

Niewoudt stel voor ’n mens maak gebruik van ’n Mahl-stok (skilderstok). “Dit is ’n meter lank en jy kan dit self maak. Dit help jou om ten minste jou arms en hande bietjie skoner te hou. Die grootste uitdaging is om voor ’n skoon doek te sit en nie te weet wat om te verf nie. Die grootste stap is om net te begin en die inspirasie sal jou vandaar neem.”

Niewoudt kry haar inspirasie uit die natuur, van plaaslandskappe, die see en skepe, wat duidelik in haar werk te sien is.

“Ek kan nie verf of teken as dit nie my siel aangryp nie.” Een van haar gunsteling-kunswerke is haar eerste “naamlose” bootskildery wat ’n vriendin van haar as ’n geskenk vir iemand aangeskaf het in St Helenabaai.

“Dit het my ure geneem om die kleure reg te kry en het gevolglik in my hart gekruip.”

Niewoudt deel ook graag dat net soos skrywers ’n blok ervaar, dink sy kunstenaars ervaar dit ook as dit kom by skilder of teken, en bieg daar is tye wat net nie vir haar die regte tyd voel om te skilder nie. Tog kry die kunstenaar weer inspi­rasie en skep kuns wat die oog vang.

Sy moedig ander kunstenaars aan, veral opkomende kunstenaars, om nooit op te hou probeer nie.

“Wat vir jou voorkom as nie goed genoeg of mooi nie, is vir ander ’n mooi kunswerk.”

Niewoudt se kunswerke word ook tans by Brickwall-galery in Hopefield uitgestal. Vir meer inligting oor haar werk bel haar gerus by 076 747 7873.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article