Ek stap smiddae langs die see en in Kleinmond (wat eintlik ’n vakansiedorp is) staan van die seehuisies reg deur die jaar toe totdat dit vakansietyd is. Ek stap gereeld verby ’n ou bouvallige huisie in Kusweg met die mooiste wasgoeddraad. ’n Wasgoeddraad met ’n uitsig op die see. ’n Onbelemmerde uitsig oor die blou oseaan. Maar daar is ’n fout en dis die feit dat die wasgoeddraad altyd leeg is. Die wasgoeddraad staan hoog en droog met so ’n mooi uitsig oor die see. Die wasgoeddraad met die geroeste pale aan die kant. Die armsalige huis se wasgoeddraad.

Ná maande se stap besluit ek dis ’n hopelose saak. Die huis staan toe. Die gras is lank en wasgoed gaan nie weer op daardie draad hang nie. Ek stap dag na dag daar verby. Die gras bly aan die groei. Die wasgoeddraad hou aan met treur.

So ’n paar weke gelede stap ek weer dieselfde roete. Ek stap verby die huis met die wasgoeddraad sonder om iets te verwag. Ek kyk nie eers meer na die wasgoeddraad nie, want dis hopeloos. Daar bly mos niemand daar nie. Maar iets helder vang my oog. Dis drie handdoeke wat oor die draad hang en elkeen is met pennetjies vasgesteek. Die gras is kort gesny. Daar staan twee Toyota Condors in die oprit.

As wasgoeddrade kon praat, sou hierdie een sê –nee, dit sou skree: “Hallo. Die mense gebruik my weer. Ek dien weer my doel. Ek beteken weer iets.”

Die wasgoeddraad hang die dag daarna vol klere. Die klere is seker nou net klaar gewas en nog effens nat, want die draad hang laag. Dis vreemd, maar die wasgoeddraad lyk vir my meer gelukkig. Hy dien sy doel. Hy word gebruik. Hy hang swaar en uit van die broeke drup daar nog so ’n paar druppels water. Die geroeste pale kreun, maar hulle kreun nie van ongelukkigheid nie, nee, hulle kreun van gelukkigheid. Hulle dien ’n doel. Die wasgoeddraad met ’n uitsig oor die see dien sy doel.

. Rick Marais is ’n joernalis by Weslander se susterskoerant DistriksPos & Helderberg Gazette in die Strand en het ook onlangs sy eerste boek, Geloof, Hoop en Liefde, gepubliseer deur Naledi-uitgewers, vrygestel. In hierdie bundel vertel hy stories van mede-Suid-Afrikaners soos saamgevat in van sy gewildste en roerendste rubrieke.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article