Die nuwe jaar het vir die plaaslike polisie op ’n besige noot begin.
Binne die eerste 10 dae van 2022 is verskeie mense in Langebaan en St. Helenabaai in hegtenis geneem vir die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie.
Volgens kapt. Tania Helfrich, plaaslike polisiewoordvoerder, is handwapens met altesaam 295 skerp patrone in ’n huis in Ascotstraat, Longacres, in Langebaan gevind.
In die tweede voorval op 6 Januarie het dit voorgekom of KFC in Langebaan beroof word, maar in werklikheid het die polisie ’n wenk ontvang van twee verdagtes in dié gebied. Daarna is drie mans naby KFC in hegtenis geneem en die polisie het ook hier beslag gelê op onwettige vuurwapens.
Helfrich sê ’n man (33) van St. Helenabaai is op 10 Januarie deur die polisie vasgetrek nadat sy huis in Davidstraat, Laingville, deursoek is.
Die polisie het hier ’n gaspistool gevind wat aangepas is om skerp ammunisie af te vuur. Skerp ammunisie is ook in die man se besit gevind.





