Die ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie wat in die rugsak van ’n man, wat in ’n Toyota Avanza na Kaapstad onderweg was, gevind is.


Die Clanwilliam-polisie het Dinsdagoggend 1 November om 01:45 roetinepatrolliewerk gedoen om kabeldiefstal hok te slaan toe ’n verdagte Toyota Avanza met ’n CA-registrasienommer, wat in die rigting van Kaapstad ry, opgemerk is.

Kapt. Tania Helfrich, ’n woordvoerder vir die Weskus-polisiedistrik, sê die voertuig is voorgekeer en deurgesoek, en ’n vuurwapen en ammunisie is in die enigste insittende se rugsak gevind.

Die verdagte, oorspronklik van Mitchells Plain, het op 3 November in die Clanwilliam-hof op aanklag van die besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie verskyn.

In ’n tweede voorval, wat Sondagoggend 6 November in Lutzville plaasgevind het, het polisielede ook roetinepatrolliediens gedoen toe hulle ’n bekende oortreder (24) van dié omgewing tussen ’n paar ander mans gewaar het. Die gewoonte-misdadiger het summier begin weghardloop toe hy sien die polisie het hom raakgesien.

Terwyl hy probeer wegkom het, het hy iets in ’n nabye bos gegooi. Die polisie het hom egter ingehardloop en ’n vuurwapen waarvan hy probeer ontslae raak het, in die bos gevind. Die reeksnommers van dié 9mm-pistool was afgevyl.

Volgens Helfrich het die man Dinsdag (8 November) in die Vredendal-landdroshof weens die besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen verskyn.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article