‘n Ondersoek is deur die Malmesbury-polisiekantoor van stapel gestuur nadat ‘n 31-jarige vrou gedurende ‘n perdewedren in Abbotsdale noodlottig beseer is.
Die perdewedrenne, wat as ‘n “familie-pretdag met jou perd” geadverteer word, word deur die plaaslike polisie in ‘n verklaring as onwettig beskryf.
Die mees onlangse byeenkoms wat glo op Sondag 27 April by die Houmoedstalle plaasgevind het, het tragies geëindig toe een van die perde ‘n vrou teen die kop en bors geskop het.
Varonique Roman is ná die voorval na die Swartland-hospitaal in Malmesbury vir mediese behandeling geneem. Sy is kort daarna na die Tygerberg-hospitaal oorgeplaas weens die ernstige aard van haar beserings. Sy het op 8 Mei aan haar beserings beswyk.
“Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie en die ondersoek na die omstandighede wat gelei het tot haar dood, duur voort,” het sers. Henry du Randt, Malmesbury-polisiewoord-
voerder, bevestig.
‘n Inwoner van Abbotsdale wat anoniem wil bly, sê die situasie word uit verband geruk. Hy meen die perdewedrenne is nie amptelike wedrenne nie, maar byeenkomste waar kinders vir die pret teen mekaar op hul perde resies jaag.
“Die kinders ry die perde vir die plesier. Daar is geen aktiwiteite vir die kinders in Abbotsdale nie. Die byeenkomste is bloot vir die pret om ons kinders van die straat en uit die kwaad te hou.”
Volgens hom is die vrou wat in die voorval beseer is glo herhaaldelik gewaarsku om uit die pad te kom waar die perde hardloop. Volgens hom gebeur die byeenkomste meestal vanself wanneer inwoners bymekaarkom om ‘n kospakkie of lekkers wat uitgedeel word, te ontvang.
“Daar is ook geen geld by die geleenthede betrokke nie,” voeg hy by.
Navraag is na die plaaslike Swartland- en Weskus-
dierebeskermingsvereniging gestuur om vas te stel of hulle van die sogenaamde perdewedrenne bewus was en of die geleenthede wel onwettig is. Geen terugvoering is teen druktyd ontvang nie.




