Watter soort beroep beoefen jy en hoe lank is jy al in die bedryf? Ek is ’n gekwalifiseerde binnenshuise ontwerper en is al ses jaar in die bedryf. Daar is ’n verskil tussen ’n binnenshuise ontwerper en ’n binneversierder. My werk behels meer tegniese sketse, 3D-modelle, ergonomiese oplossings en baie meer terwyl ’n binneversierder meer op meubels, materiale, kleurkeuses en dekor-items fokus.
Wat is die interessantste deel van jou werk? Ek hou daarvan om verskillende mense te ontmoet en verhoudings te bou. Die meeste van my kliënte word my vriende nadat ons saam aan iets gewerk het. Daar is min beroepe waar jy so naby aan ’n kliënt gaan werk om ’n projek te voltooi. Op die ou einde moet jy en jou kliënt ’n goeie verhouding hê om die projek suksesvol te voltooi.
Wat behels jou werk? Ek werk gereeld saam met argitekte omdat ek van ’n huisplan af werk om opsies aan die kliënt voor te stel. Ek en die argitek werk dus saam om die kliënt se droomhuis of projek te visualiseer. Baie van my kliënte nader my sodra hulle hul planne van die argitek ontvang het, en dan werk ek aan die meubelplasing, kombuisontwerp, beligtinguitleg, kies van verf, teëls, ensovoorts. Dis basies alles wat jy in die huis kan sien. Ek spesialiseer in 3D-voorstellings en kliënte is mal daaroor om ’n konsepskets te kan sien van hoe hul huis gaan lyk sodra dit klaar is. Die 3D-skets wys al die materiale, kaste, meubels en kleurkeuses wat vir die huis voorgestel word. Die 3D-voorstellings is ook ’n baie goedkoper manier om foute te maak, want die kliënt kan dan presies sien wat vir hulle in die huis gaan werk en wat nie.
Jy het seker uitdagings wat jy in die gesig moet staar; watter tipe uitdagings ervaar jy? Soos met enige beroep, het binnenshuis-ontwerpers ook daaglikse uitdagings. Soms is die uitdaging net groter as ander dae. ’n Uitdaging waarmee ek nou en dan te doen kry, is om ’n styl te doen wat nie noodwendig dieselfde is as myne nie. Ek hou van natuurlike kleure en teksture, maar soms kry ek kliënte wat van baie kleur en patrone hou. Dus moet ek aanpasbaar wees by my kliënt om hulle die beste moontlike ontwerp te doen.
Wat moes jy studeer om te wees waar jy vandag is? Ek het drie jaar by die BHC School of Design in Kaapstad studeer en my diploma in binnenshuise ontwerp verwerf. Dit was ’n ongelooflike kursus, wat perfek is vir enigiemand wat daaraan dink om iets in die ontwerpbedryf te doen. Ek wou aanvanklik argitektuur swot en terwyl ek op soek was na ’n instansie waar ek kan gaan studeer, het ek op binnenshuise ontwerp afgekom. Vir my is dit die perfekte kombinasie tussen argitektuur en binnenshuise versiering. Daar is tegniese tekeninge waarmee jy daagliks werk en ander dae kies jy meubels, kussings en verfkleure. Ek kon nie ’n beter beroep gekies het nie, en is elke dag dankbaar vir al die verskillende projekte waarmee ek te doen het.
Wat is die een fout wat ’n binnenshuise ontwerper nie kan bekostig om te maak nie? Ek sou sê ’n groot fout wat ontwerpers kan maak, is om nie na hul kliënt te luister nie. Die meeste mense weet waarvan hulle hou en nie hou nie, maar sukkel soms om dit te verbaliseer. Dit is ’n ontwerper se werk om die regte vrae te vra en te luister na wat die kliënt graag wil hê. Vir die meeste mense is huisbou ’n stresvolle situasie, dus moet die ontwerper ook onthou om die kliënt altyd kalm te hou en die bou-proses mooi te verduidelik. ’n Ontwerper is daar om die stres van die kliënt af weg te neem en hulle op die eindresultaat te laat fokus.
Watter elemente kan mense in hul huis bring om dit uniek te laat lyk? Dit is nie altyd nodig om iets by te sit nie; soms is dit beter om iets weg te vat om ’n beter impak in jou ruimte te gee. Ek volg altyd die sêding “less is more”.
Watter raad het jy vir jong binnenshuise ontwerpers? Jy gaan elke dag iets nuuts leer. Soms gaan dit oor jouself wees, en ander dae iets oor die bedryf. Die belangrikste is om altyd nederig te bly – dit maak nie saak hoe lank jy al in die beroep is nie, wees altyd bereid om iets by iemand anders te leer.




