Die golf van sosialemediabedrog ry steeds die Weskus bloots.
Kapt. Tania Helfrich, ’n woordvoerder vir die Weskus-polisiedistrik, waarsku keer op keer, maar mense glo steeds die bedrieërs wat boodskappe op WhatsApp, Messenger, SMS of e-pos stuur.
’n 70-jarige vrou van Langebaan is verlede Donderdag 13 Februarie deur ’n sogenaamde “selfoondiensverskaffer” se “bedrogtak” gebel. Dié persoon het haar meegedeel dat iemand geld van haar rekening verhaal en haar aangesê om geld “aan haarself te stuur”, wat sy toe gedoen het. Sy is dié R1 200 kwyt, want dit was ’n bedrogspul.
Dieselfde dag is ’n 57-jarige Weskusser by ’n Kaapse winkelsentrum deur ’n man met ’n geel onderbaadjie genader. Hy het die slagoffer gevra om vir sy parkering te betaal. Die slagoffer het ingestem, waarop die bedrieër die man na ’n OTM geneem het. Hier het hy hom aangesê om die “pay parking”-opsie te kies. Die slagoffer het besluit om die transaksie te kanselleer, maar R4 050 is steeds wederregtelik uit sy rekening onttrek.
’n Weskusman van 69 jaar oud het ook verlede week sy pinnommer vir ’n sogenaamde “bedrogtak-amptenaar” gegee, waarna R440 000 uit sy rekening onttrek is.
In Saldanha is ’n bedrogsaak aangemeld nadat ’n vrou ’n rusbank op sosiale media adverteer en ’n voornemende koper – die slagoffer – op Donderdag 13 Februarie ’n deposito van R400 betaal het. Die “adverteerder” het belowe om die bank om 12:00 dieselfde dag nog af te lewer. Die koper het tevergeefs navraag gedoen, want die bank is nooit afgelewer nie. Die bank is glo steeds “te koop”.
Woensdag 12 Februarie het ’n 59-jarige man van Vredenburg R25 000 in ’n “bouer” se rekening oorbetaal vir ’n huis wat in die Noord-Kaap gebou moes word. Die slagoffer het die volgende dag uitgevind dat die einste bouer “getrek” het en nie opgespoor kan word nie.
Helfrich vra weer eens dat Weskussers eerder oorversigtig as oorhaastig moet wees. “Baie sosialemediabedrieërs loop hier rond.”



