Die Langebaner Peter Huxham en Frederick Potgieter, van George, tydens hul verhoor.Foto: skermgreep/naWETIN


Vyf maande ná hul inhegtenisne­ming en sonder enige kontak met hul familie is ’n Langebaner en sy kollega van George na ’n Ekwatoriaal-Guinese tronk gestuur.

Peter Huxham (55) van Langebaan en sy kollega, Frederick Potgieter (53) van George, werk jare lank reeds vir die Nederlandse maatskappy SBM (Single Buoy Mooring) Offshore. Hulle is Donderdag 9 Februarie by die Anda China Malabo-hotel in hegtenis geneem in verband met beweerde dwelm-misdrywe.

Huxham en Potgieter is op Vrydag 30 Junie skuldig bevind op aanklagte van handel in en onwettige besit van verdowingsmiddels.

Volgens ’n nuusberig van naWETIN, ’n Ekwatoriaal-Guinese televisie­nuuskanaal, is die Suid-Afrikaners 12 jaar tronkstraf opgelê en moet elkeen ook ’n boete van $5 miljoen (sowat R93 miljoen) betaal, sowel as skadevergoeding.

“Help ons om hierdie onreg teen ons onskuldige mans te beveg. Hulle verdien dit nie en is onregmatig beskuldig van ’n misdaad wat hulle nie gepleeg het nie,” het Kathy McConnachie, Huxam se lewensmaat, Maandag op sosiale media gevra.

Huxam en Potgieter het ten tye van hul inhegtenisneming gereed gemaak om Suid-Afrika toe te vlieg. Volgens ’n familieverteenwoordiger wat vroeër vanjaar met Weslander gesels het was die inhegtenisneming deel van ’n moontlike “politieke speletjie” nadat die sakeman Daniel Janse van Rensburg ’n siviele eis teen Ekwatoriaal-Guinee se visepresident, Teodorin Obiang, gebring het. Die Wes-Kaapse hooggeregshof het bevind Obiang moet byna R40 miljoen aan Janse van Rensburg betaal as skadevergoeding vir onder meer sy aanhouding in die berugte Black Beach-tronk. Die hof het toe op ’n luukse seiljag, vermoedelik dié van Obiang, beslag gelê. Die klagtes teen Huxam en Potgieter is dae later gebring. Verteenwoordigers van die families is verpletter oor die vonnisoplegging, berig Rapport.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article