Karpowership het verlede week nog ’n struikelblok teëgekom nadat die organisasie teen belastingmisbruik (OUTA) die hof gevra het om die maatskappy se opwekkingslisensie tersyde te stel.

OUTA het Donderdag (28 April) op ’n mediakonferensie gesê hy het ’n hofaansoek teen die Nasionale Energiereguleerder (Nersa) ingedien omdat hy meen Nersa het voortydig die lisensie toegestaan.

Karpowership het planne om onder meer in Saldanhabaai kragskepe in Suid-Afrika vas te meer om elektrisiteit op te wek. Die plan is vir die skepe om vir die volgende twee dekades elektrisiteit op te wek en om die kragnetwerk meer stabiel te hou deur beurtkrag teen te werk.

Die omgewingsorganisasie Green Connection het ook sy stem by die teenstanders van die kragopwekkingsprojek gevoeg.

Dié organisasie het Donderdag (28 April) in ’n verklaring gesê hy het ’n aansoek in die Gautengse hooggeregshof teen Nersa se goedkeuring van die lisensie gebring.

Green Connection meen Nersa het nie die omgewingsimpak van die projek in ag geneem nie. Neville van Rooy, gemeenskapsuitreikkoördineerder vir Green Connection, meen die belange van die plaaslike gemeenskappe, veral kleinskaalse vissers, is oor die hoof gesien.

“Verder het Nersa hierdie lisensies toegestaan ??op grond van die openbaredeelnameprosesse waar kritieke inligting uit die dokumente wat openbaar gemaak is, geredigeer is, insluitend die bepalings van enige kragaankoopooreenkoms (PPA) met Eskom.

“Dit is as gevolg van hierdie kritieke teenstrydighede en blatante gebrek aan deursigtigheid dat ons ons tot die howe gewend het vir geregtigheid vir die mense,” het Van Rooy verduidelik.

Vissers in die drie streke waar Karpowership sy kragskepe wil vasmeer, het op Vryheidsdag plakkaat-optogte teen die maatskappy gehou.

“Kleinskaalse vissers in die Weskus is kwaad dat ’n Karpowership onlangs in die Saldanha-hawe vasgemeer het, veral omdat ons geen vergaderings met Karpowerships gehad het nie, en ook nie aan enige verwante omgewingsimpakstudies deelgeneem het nie.

“Tog is hulle hier. Dit is nie reg nie. Ons behoort inspraak te kry in hierdie saak. Hierdie projek is veronderstel om vir 20 jaar te duur. Wat sal die potensiële gevolge vir die baai en sy mense oor hierdie tydperk wees?” het die Saldanhabaaier Carmelita Mostert luidens ’n verklaring laat hoor.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article