Dit is steeds ’n stryd vir kleinskaalse vissers om kop bo water te hou en ’n lewe te maak. Vissers meen hulle trek aanhoudend aan die kortste ent van die stok wanneer dit kom by dié bedryf.
Masifundise en 12 kleinskaalse viskoöperasies van die Wes-Kaap en Noord-Kaap doen ’n beroep op die departement van bosbou, visserye en omgewing (DBVO) om die vrystelling wat kleinskaalse vissers in staat stel om hul Weskus-kreef-allokering onafhanklik te vang, te verleng.
In ’n persverklaring uitgereik deur Masifundise spreek hulle en Coastal Links hul kommer uit oor die 2024-’25-Totale Toelaatbare Vangs (TTV)-toekenning vir Weskus-kreef.
Jordan Volmink, mediabeampte vir Masifundise, sê tans is 65% van die algeheel toelaatbare vangste toegewys vir nywerheidsgebruik naby die kus en ter see.
“Hierdie verspreiding is nie in ooreenstemming met die kleinskaalse visserybeleid se beginsels van herverdeling en billike toegang nie. Hierdie toekenningstruktuur beperk kleinskaalse vissers se vermoë om billik uit hierdie hulpbron voordeel te trek, wat die doelwitte van die kleinskaalse visserybeleid ondermyn,” sê Volmink.
Hy sê voorts vir baie bestaansvissers bied toegang om hul eie kwota van Weskus-kreef te vang die geleentheid om die optimale voordeel uit hul werk te kan ontgin.
Naomi Cloete, direkteur van Paternoster Multipurpose Fishing Cooperation, werk al vir jare saam met vissers. Cloete sê DBVO het kleinskaalse vissers verneder en vissers is in koöperasies geboender.
“Ek is baie teleurgesteld en het nie eintlik woorde nie,” sê Cloete.
Sy vra die DBVO moet uitkom na die gebiede toe en self kom kyk hoe swaar die vissers kry.
Cliffie Swartz, voorsitter van Vredenburg Multipurpose Fishing Primary Cooperative Ltd, stem saam dat die verdeling heeltemal onregverdig is en verwys daarna as “daylight robbery”.
Met al die verdelings en verskille meen dié visserman dat kleinskaalse vissers benadeel word om ander se verhogings te dek.
Charles Jordaan, president van die St. Helenabaai-vissersgemeenskapsforum, sê die DBVO moet vrystellings verleng om die kleinskaalse vissers ook die voordeel te gee om tot dieselfde standaarde as die kommersiële bedryf te groei, maar voel die bedryf sal kleinskaalse vissers weerhou om tot ’n hoër vlak te groei.
Oor die algemeen voel kleinskaalse vissers daar moet meer gedoen word sodat hulle en die generasies wat volg na hul gesinne kan omsien.
Volmink voeg by dat daar ’n beroep gedoen word op die DBVO om besluite te neem wat in die belang van vissermense en hul gemeenskappe sal wees, vir plaaslike ekonomiese ontwikkeling en nie vir private winste nie.



