‘Ons wil nie dié ontwikkeling hê’ sê Myburg-park-inwoners op Langebaan

dummy text

Alida Buckle

‘n Besorgde groep inwoners van Myburg-park, Langebaan – wat langs die groenstrook woon – glo hul daaglikse lewe gaan onherroeplik verander indien voortgegaan word met Fase 2 en 3 van die Meeuweklip-ontwikkeling.

Die inwoners meen dié ontwikkeling met sowat 150 wooneenhede op die destydse Plaas Meeuweklip gaan die fauna en flora van die gebied, hul veiligheid en rustige bestaan benadeel.

Dirk van der Merwe, ‘n sakeman en woordvoerder vir die groep inwoners, meen die gemeenskap gaan ‘n uitkykpunt oor die natuurskoon verloor. “Inwoners, dorpsbewoners en besoekers benut gereeld dié gemeenskaplike uitkykpunt.”

Volgens Van der Merwe het die meeste aangrensende huiseienaars rondom die ontwikkeling al ooreenstemmende besware op verskeie vergaderings gelug. Die algemene gevoel is dat die Saldanhabaai-munisipaliteit (SBM) se reaksie op hul bekommernisse “onbetrokke en ongevoelig” is. “Die munisipaliteit luister geensins na ons besware nie. Hulle dryf bloot die ontwikkeling vorentoe,” meen Van der Merwe.

Die inwoners het formele besware oor die “gebrekkige” openbaredeelnameproses ingedien. Volgens Van der Merwe het die inwoners geen insae gekry in die prosesse waartydens die ontwikkelingsaansoek goedgekeur en toestemmingsgebruike en hersonerings toegestaan is nie.

“Daar was geen formele dorpstigtingsaansoek om die grond, wat vir ‘landbou’ gesoneer is, na ‘bewoning’ te verander nie.”

Volgens Van der Merwe is die munisipaliteit nie deursigtig oor die ontwikkelingsplanne en die potensiële impakte daarvan nie. “Die munisipaliteit speel nie oop kaarte met sy inwoners nie. Daar is verskuilde agendas en bedoelings wat nie die inwoners se belange eerste stel nie.”

Van der Merwe het sy woonperseel in 2019 gekoop. Op daardie tydstip is dit glo pertinent aan hom gestel dat die groenstrook “beskerm” is en geen ontwikkeling daarop toegelaat sal word nie. “Dit was een van my grootste oorwegings om die eiendom te koop.” Van der Merwe het sedertdien miljoene bestee om ‘n luukse huis te bou en die perseel in te rig.
Regstappe oorweeg

Hy glo die Meeuweklip-ontwikkeling gaan die groenstrook in Myburghpark laat wegval. “Al die bokkies, skilpaaie, voëls, dassies, vlermuise, uile, slange en ander diere sal verdryf word of weens inperking doodgaan, en die plante en blomme waarvoor Langebaan bekend is, sal verdwyn.”

Die inwoners vrees dat hul omgewing, waar inwoners en toeriste stap en ontspan, handomkeer sal verander weens die honderde “nuwe” intrekkers wat nog meer voertuie, geraas en ‘n verlies aan privaatheid, veiligheid en rustigheid meebring as wat die bestaande Langebaan Manor (Fase 1) reeds doen. Van die inwoners, Van der Merwe inkluis, oorweeg regstappe.

Inwoners sou verkies dat die ontwikkeling gestop word, met ‘n baie duidelike stipulasie in Langebaan se dorpsbeplanningskema dat dié gedeelte onaangeraak moet bly.

Die SBM hou egter vol dat alle behoorlike regsprosesse met die goedkeuring van hierdie ontwikkeling gevolg is.

Volgens Tereza Burger, ‘n woordvoerder vir die SBM, is die Plaas Meeuweklip (erf 10511) op 20 Junie 2024 aan die Devmark-eiendomsgroep oorgedra.

Die Meeuweklip-ontwikkeling bestaan uit drie ontwikkelingsfases: Fase 1, Langebaan Manor, wat grotendeels reeds klaar gebou is. Volgens Burger val Fases 2 en 3 se grondgebruiksregte steeds “binne die geldigheidstydperk” van die grondgebruikaansoek.

Op ‘n vraag oor die prosesse wat gevolg is om te verseker dat die huidige omliggende inwoners oor die ontwikkeling ingelig word, het Burger gesê die SBM sirkuleer, ingevolge wetgewing, sodanige aansoeke direk aan omliggende grondeienaars en betrokke partye vir hul insette oor ‘n aansoek.

Of die wetlik vereiste openbaredeelnameproses met die omgewingsmagtiging van Augustus 2007 en die gewysigde magtiging van 2009 ná appèl gevolg is, antwoord Burger dat die aansoek oorweeg is vóórdat elektroniese stelsels in werking gestel is. Sy het Weslander aangeraai om ‘n aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (Paia) in te dien om toegang tot rekords in die munisipaliteit se argiewe te kry weens die “volume en soort dokumentasie” wat oor die kwessie aangevra is. Weslander het vandeesweek die proses begin om afskrifte van die dokumente te kry.

Volgens Burger het beswaarmakers teen vorige aansoeke appèl teen die uitkoms van die besluit aangeteken. Die reeds goedgekeurde sonering en grondgebruikgoedkeurings van grond bly van krag wanneer dit verkoop word, want dit word nie aan iemand gekoppel nie, maar aan die grond. Dit is derhalwe oordraagbaar aan die opvolgers in die titelakte.

Dokumente te kry

Burger sê verder daar was al meer as een aansoek oor die betrokke eiendom, met die eerste (aanvanklike) aansoek wat op ‘n vergadering van die beplanning- en strategiesedienstekomitee op 12 April 2012 oorweeg is.

Volgens Jean Ehlers, die direkteur van die Devmark-eiendomsgroep, het die grondgebruikaansoek deur ‘n openbare aansoekproses gegaan en is alle goedkeuringsdokumentasie openbare dokumente wat op aanvraag by die SBM verkry kan word.

Ehlers meen Weslander se vrae spruit uit “onkunde”, want alvorens ontwikkelingsregte op die grond bekom kon word, is ‘n omgewingsgoedkeuringsproses van bykans ‘n dekade deurgegaan.

“Die omgewingsgoedkeuring is uiteindelik deur die departement van omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning (DEA&DP) toegestaan, onderhewig aan baie streng voorwaardes. As’t ware het die omgewingskonsultant genoem dat hulle nog nooit vantevore so ‘n komplekse en streng goedkeuring hanteer het nie.”

‘Belaglike’ besware

Die DEA&DP duld volgens Ehlers geen afwykings van die goedkeuringsvoorwaardes nie en ‘n ontwikkelaar moet streng by die goedkeuringsvoorwaardes hou en enige afwyking binne die gegewe tyd regstel.

Ehlers benadruk dat dit ‘n uiters moeilike taak is om met ‘n landgoedontwikkeling te alle tye streng binnemaatstawwe en reëls te hou. Afwykings word wel van tyd tot tyd by die ontwikkelaar aangemeld, maar volgens hom sal DEA& DP bouwerk op die perseel stop as die ontwikkelaar nie gehoor gee aan hul instruksies of kommentaar nie.

Ehlers, wat al sewe jaar by die ontwikkeling betrokke is, meen die omliggende eienaars is heeltemal teen die ontwikkeling gekant en meestal “uit die staanspoor teen enige ontwikkeling in Langebaan gekant”.

Van die besware, meen Ehlers, “grens aan belaglikheid” en grondeienaars se persoonlike gevoelens op openbare platforms oor die ontwikkeling en die ontwikkelaar is “aanhitsing tot vyandigheid”, ongegrond en lasterlik van aard.

Weslander ondersoek tans nog inwoners se besware.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article