Die einde van beurtkrag in die Wes-Kaap is die provinsiale regering se teiken.
Dit was onder die planne wat die Wes-Kaapse Premier, Alan Winde, Maandagaand tydens die jaarlikse provinsiale rede gedeel het. Vanjaar is die provinsiale wetgewer in die Hugenote-gemeenskapsaal in die Paarl geopen. Volgens Winde is die provinsie wel op pad om die eerste provinsie sonder beurtkrag te word.
“Net minder as R7 miljard word oor die volgende drie jaar bestee om die Wes-Kaap energie-veerkragtig te kry,” het hy verduidelik.
R1 miljard van hierdie geld kom van die provinsie terwyl die Kaapse Metropool R3,9 miljard sal bestee, met R1,9 miljard wat uit ander munisipaliteite in die provinsie se begrotings kom.
’n Fokus word op wind- en sonkrag geplaas soos die een deur Atlantis Foundries en sy energievennoot, wat saam aan ’n sonkrag-projek werk. Hier aan die Weskus het Phelan Energy planne om ’n moderne groen waterstof-ammoniak-aanleg op te rig.
Saldanha is ook een van die munisipaliteite wat deel van die provinsie se energie-veerkragtigheidsprojek uitmaak om meer onafhanklik van die nasionale kragnetwerk te word.
Die fokus op elektrisiteit sluit aan by die provinsiale regering se strewe om meer werksgeleenthede te help aanwakker.
“Die Wes-Kaap het na raming tussen R48,6 miljard en R61,2 miljard aan reële bruto binnelandse produk (BBP) verloor sedert beurtkrag die eerste keer ingestel is. In 2022 is die reële BBP wat vir die Wes-Kaap verloor is, op R8,2 miljard geraam. Die geraamde koste van beurtkrag vir die Wes-Kaap se ekonomie, in fase vier, beloop R43 miljoen per dag, en in hoër stadiums selfs meer,” het Winde gesê.
Die 2023-matriekslaagsyfer, gemeenskapsveiligheid en openbare vervoer is ook uitgelig.




