Ek het hoop vir ons land. Laat ek dit nog ’n keer onomwonde stel – ek het hoop vir ons land, want ons mammas, umamas, moeders is nog hier. Hulle, die rotse, steunpilare en fondasies van ons Suid Afrikaanse huisgesinne staan nog steeds hul plekke vol. Elke dag. Sonder kla of terugdeins. Winter of somer, in goeie of slegte tye. Hulle is daar. Gereed om haarself en die wat sy liefhet (haar land ingesluit) te beskerm.

Dit het die afgelope klompie jare nie so goed gegaan met ons as ’n nasie nie. Veral daai tye toe die koskaste van menige huisgesinne bedreig is nie. Dit was veral ons mammas wat hul stem dik gemaak het en dis hul pleidooie wat die hande en beursies beweeg het om die armstes van die armstes tot hulp te snel. Soms was die stemme nie eens hoorbaar nie, maar die aksies het harder gespreek en is die kindermondjies in Hanover Park, Eersterivier, Pniël, Koringberg, Lambertsbaai, Mbekweni, Ruiterwacht, Laaiplek en Paternoster gevoed. Met die min wat daar was, het die wonderwerke gebeur. Het die spreekwoordelike vyf brode en twee vissies die skare gevoed, want ’n moederhart sal dit nooit kan aanvaar dat haar eie of ander se kinders honger moet gaan slaap nie. Nooit nie. Dis wie ’n ma is. Dis deel van haar DNS-samestelling.

Gerusstellend is die wete dat ons land al ’n ver ent gevorder het om die rol van die vrou te herdefinieer weg van jou eertydse stereotipiese huisvrou – goed genoeg vir kosmaak, huis skoonmaak, kinders voortbring en onderdanig wees aan die man in die huis en samelewing. En dit maak die rol en waarde van ons vroue in ons hedendaagse samelewing soveel meer merkwaardig. Iemand wat haar plek met waardigheid kan vol staan by die werkplek sowel as om die hartklop van haar huisgesin te wees. En dis hierdie merkwaardige dubbel- (en soms trippel-) rolle wat soms nie genoeg beklemtoon en waardeer word nie. En dis hier waar ek my stem altyd sal wil laat geld en hoor. In belang van hulle wat dit absoluut werd is – ons vroue.

Die teendeel hiervan? Ek hoef nie eens veel hieroor te sê nie. Gaan kyk maar in ons gemeenskappe. Die geweld teen ons vroue. Voeg daarby die verkragtingsta­tistieke landswyd. Hoef ons te vra wie is die oortreders? Ek dink nie so nie, want ons almal is intens bewus van die feite op die tafel. Ons egskeidingsyfers wat ten hemele skree is nog ’n aanduiding dat daar iewers groot fout is, wat roep om verheldering, antwoorde en die nodige kopskuif in die regte rigting. Indien nie, gaan ons kinders verder daaronder ly. Is die kanse groot dat ons nog ’n keer saam gaan huil as ons hoor dat nog ’n groep van ons kinders in tavernes gesterf het. In die voorste linie van antwoorde soek, glo ek, moet ons manne in die gemeenskap en samelewing wees. Ons moet van die eerstes wees wat moet erken en bely dat ons in die taak om ons vroue en kinders na behore te beskerm, gruwelik gefaal het.

En diegene van ons wat die taak wel na behore kan uitvoer het die verantwoordelikheid om ’n stem teen die gruwel-statistieke te wees. Hoewel daar al baie vordering gemaak is om die vrou se rol en plek in veral die werksplek te herstel en te versterk, is daar nog baie ruimte vir verbetering. Ja, vroue kan vir hulself opstaan en praat, maar ons manlike spesie het nodig om hulle daarmee ten volle te ondersteun. Blootweg omdat dit die regte ding is om te doen. Ons vroue se invloed hedendaags moet en kan geld in elke samelewing­sfeer. Veral in die politieke arena. Nie om die magspel beter te kan speel as hul manlike eweknieë nie, maar om saam met haar magsposisie ook haar moederhart en omgee vir haar gemeenskap in die raadsale te laat hoor en geld. Die uitdagings wat ons land in die gesig staar is te groot en kompleks dat ons vroue net stoele gaan warm sit, mooi lyk, ’n vet salaris verdien of ’n simboliese nommer word om die geslagsboksies by die werk te tiek.

Nee, ons kyk op na julle en wil saam met julle hard werk aan oplossings in belang van al ons landsburgers. Jul merkwaardige prestasies op persoonlike en professionele vlak inspireer ons. Die kaliber van vroue wat ons mooi land al opgelewer het, spreek boekdele daarvan. Dus, ons het hoop dat die massastaptog van 1956 deur vroue oor die kleurgrens heen na die Uniegebou nie weer herhaal hoef te word nie. En as dit dan moet, dan weet ons julle sal daardie keerpunt teweeg kan bring waarna ons almal in ons mooi land so angstig uitsien.

Julle is die rotse in ons samelewing. Ons het geleer dat “When you strike the women, you strike a rock, you will be crushed!” Vroue, julle mag maar jul stemme duidelik laat hoor. Ek is oortuig daarvan dat Suid-Afrika sal luister, dat ons manne sal en moet luister.

Ons salueer julle!

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article