’n Gedenktafel wat destyds vir wyle Leo Williams opgerig is. Twee jaar na sy dood soek die gemeenskap van Laingville steeds geregtigheid.


Dis twee jaar later en steeds is daar geen geregtigheid vir Leo Williams nie.

Dit is hoe die Laingville-gemeenskap voel ná die seun se skietdood op Vrydag 31 Julie 2020.

Dié voorval, wat tydens onluste oor behuising gebeur het, het die gemeenskap vir altyd verander en permanente letsels gelaat.

“Woensdag (17 Augustus) was presies twee jaar nadat Leo se masjiene afgeskakel is en dié dag het alle ou wonde net weer oopgekrap. Ek sou graag wou sien die gemeenskap sluit die hoofstuk af, maar die mense sê hulle sal nie rus alvorens iemand vir Leo se dood in hegtenis geneem word nie,” verduidelik Thyrone Williams (geen familieverband met Leo nie).

Leo het daardie Vrydag televisie gekyk terwyl die onluste in die buurt gewoed het. In die ondersoek na sy dood is bevind dit was ’n dwaal-rubberkoeël wat die negejarige in die kop getref het.

Woensdagaand (2 Maart) moes die inwoners op ’n gemeenskaps­vergadering hoor niemand van die openbare-orde-polisiebeamptes (Pops) sou vir die seun se dood vervolg word nie.

Die Onafhanklike Polisieondersoek­direktoraat (Opod) se verweer was daar kon nie bepaal word wie die skoot gevuur het wat Leo se dood veroorsaak het nie. Tot op hede staan niemand pa vir sy dood nie.

Williams is ’n gemeenskapsleier en het sedert Leo se dood ook proporsionele raadslid vir die Saldanhabaai-munisipaliteit geword.

Hy, soos vele ander Laingville-inwoners, dra swaar aan die emosionele las van die gebeure. Leo se grootmaak-ma, Cathy Thomas, wat na Leo en sy jonger broer omgesien het, is in Augustus verlede jaar oorlede.

Thomas het kort voor haar dood vir die gemeenskap gesê sy wou nie haar oë toemaak voor die polisiebeampte, wat vir haar grootmaak-kind se dood verantwoordelik was, in hegtenis geneem is nie. Sy is ’n week later oorlede.

“Ek weet nie meer hoe om die mense in die oë te kyk nie. Aunty Cathy is intussen dood en die familie wag nog op antwoorde, maar niemand vat ons aan die hand nie. Die departement van justisie het ons gefaal, ons reik steeds uit na die Menseregtekommissie en ander rolspelers vir terugvoer.”

Nog ’n klap in die gesig vir die gemeenskap is die feit dat die oorspronklike probleem wat tot die onluste gelei het, steeds nie opgelos is nie. In Julie 2020 het die gemeenskap dit duidelik gemaak hulle is ongelukkig oor die behuisingsprojek wat onder konstruksie was.

Altesaam 50 huise sou oorhandig word, maar die gemeenskap het gesê dié wonings sou nie die nood vir behuising in Laingville aanspreek nie.

“Wie kry ’n huis en wie nie?” wou die gemeenskap oor die 50 huise in die 309-behuisingsprojek, weet. Die Laingville-komitee is toe gestig om die gemeenskap te verteen­woordig.

Hulle het ’n beroep op die munisipaliteit gedoen om met die provinsiale regering kontak te maak om te motiveer vir meer huise.

Williams het Dinsdag aan Weslander gesê geen positiewe terugvoer is tot op hede van die munisipaliteit of regering ontvang nie. “Dit voel soos ’n doodloop­straat. Ek het nou gevra dat die beamptes self na die gemeenskap moet kom om hul besluit te verduidelik. Ons is presies waar ons destyds was – dis ’n feit.”

Nog ’n nagevolg van Leo se dood is die gebroke verhouding tussen die gemeenskap en die plaaslike polisie.

“Dit is moeilik om ’n verhouding met die polisie te bou. Daar is ook ’n gevoel van haat teenoor Pops. Praat met enigeen in Laingville en hulle sal vir jou dieselfde ding sê – hulle vertrou nie die polisie nie,” sê Williams.

Die leemte wat deur dié wantroue veroorsaak is, is egter deur die gemeenskap deur middel van die buurtwag gevul. “Daar is gemengde gevoelens oor veiligheid in die dorp, maar die buurtwag is gelukkig baie aktief. Die span het natuurlik hul werk, maar hulle reageer vinnig en bied meer gemoedsrus met hul teenwoordigheid,” meen Williams.

Of daar ooit iemand vir Leo se dood sal pa staan is nog onbekend, maar die Laingville-gemeenskap sê hulle sal nie rus voor geregtigheid geskied nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article