Lede van die Velddrif-sakekamer en Bergrivier-toerismeraad het die voorreg gehad om die premier van die Wes-Kaap, Alan Winde, in Velddrif te ontmoet.
Volgens ’n persverklaring wat op 1 Februarie uit die kantoor van die premier gekom het, het Winde Velddrif besoek om “die gemeenskap te ontmoet en betrokke te raak [en] om na hul idees en bekommernisse te luister” voor die provinsiale staatsrede wat Dinsdag (15 Februarie) in die dorp plaasgevind het.
Volgens Johnny da Silva, voorsitter van die Velddrif-sakekamer, is die groep, wat met die premier vergader het, baie dankbaar oor die “tyd en toewyding” wat die agbare premier aan hul sake- en toerisme-uitdagings by die vergadering gegee het, al kon al die bekommernisse nie bespreek word nie.
“Ons het al met die minister van vervoer vergader en die boodskap is duidelik: Ons sal almal moet saamwerk en plaaslike sakelui ondersteun as ons wil floreer en sukses in ons ondernemings en as gemeenskap wil behaal,” het Da Silva gesê.
Die Velddrif-sakekamer hou sy jaarvergadering op 17 Maart, waar die bekommernisse waaroor by die vergaderings gesels is, verder bespreek sal word. “Ons doen ’n beroep op elke sakeonderneming in ons gebied om op 17 Maart by ons aan te sluit. Ons het egter net plek vir 130 mense. Bespreek vandag nog,” het Da Silva gesê.
Vir meer inligting bel die Velddrif-sakekamer by 081 591 0815 of stuur ’n e-pos aan secretary@velddrif.info.





