“Wat doen ’n mens anders as om maar net die stukke op te tel en aan te gaan? ’n Hele lewe lê hier in as.”
Pieter Venter (51), wie se huis by Saturnusstraat 1 in Vredenburg Saterdagmiddag omstreeks 13:15 aan die brand geslaan en binne minute heeltemal uitgebrand het, kon Maandagoggend net na die uitgebrande braaikamer staar.
Die brand het vermoedelik daar ontstaan, maar die oorsaak word nog ondersoek.
Sy vrou, Carol (48), het verduidelik hulle was op pad terug van die Weskus Mall, waarheen hulle net gou hul dogter, Nikita (17), vir ’n oogtoets geneem het.
Toe hulle die oproep van hul seun, Kyle (23), kry dat die huis in ligte laaie staan, het Pieter volgens Carol op die nuwe kronkelpad langs Builders Warehouse met skreeuende bande gejaag om so gou as moontlik by die huis naby die Weskusnessie-kleuterskool uit te kom.
Kyle en Ernst Myburgh (67), wat by hulle woon, was by die huis saam met ander jong kuiergaste.
Met hul aankoms was almal reeds veilig uit die huis, maar die vlamme het deur die dak gelek.
Volgens Carol het haar man in die teerpad voor die huis op sy knieë gesak, want daar was nie veel meer te doen as om te kyk hoe alles uitbrand nie. “Dit was binne minute verby. Alles weg.”
Bure en ander inwoners was vinnig op die toneel om met tuinslange te probeer keer dat die brand na omliggende huise versprei. Almal het probeer red wat hulle kon, maar die Venters is met net die klere aan hul lyf gelos – en ’n paar swart Crocks van Pieter wat iemand by ’n venster uitgegooi het.
Maandagoggend was Carol oorstelp om tussen ’n hoop halfgebrande, swartgesmeerde klere ’n fotoalbum met foto’s van Kyle as baba te kry.
“My baba, my baba,” het sy met trane in haar oë gesê toe sy op die stukkie herinnering afkom wat sy seker was verlore is. Buiten dat die buiteblaaie swart verbrand is, was die foto’s binne-in ongeskonde.
’n Entjie verder het sy ook op ’n klein foto’tjie van haar ma afgekom.
Verder is alles wat hulle in 14 jaar in dié huis bymekaargemaak het, tot niet.
Hul vyf honde, waaronder twee worshonde, ’n Dobermann pinscher en ’n skaaphond, het gelukkig ook ongedeerd uit die brandende huis gekom, en word tans deur ’n weldoener versorg.
Volgens Tereza Burger, ’n woordvoerder van die Saldanhabaai-munisipaliteit, het hul beheerkamer omstreeks 13:25 ’n oproep gekry dat die huis aan die brand is, wat aan die brandweerdienste deurgegee is.
Met hul aankoms op die toneel was die huis reeds in vlamme gehul en die brandweerpersoneel het met brandbestryding begin. Die brand was teen 16:20 geblus.
’n Gastehuis-eienaar van Saldanha kon die Venters tot vandag (Donderdag 29 Februarie) gratis verblyf aanbied en hulle het reeds na ’n paar huureiendomme in Vredenburg gaan kyk.
“Ons moet nou maar net aangaan,” is hul mening oor die onverwagse tragedie.





