“Koop nou en betaal later” is ’n gewilde manier om produkte of dienste te adverteer waarvoor mense nie genoeg kontant het om te betaal nie – “instant gratification”. Saamgestelde rente is ’n wonderlike ding wanneer jy rente op beleggings (spaargeld) verdien, maar dit is ’n pyn as jy dit op geleende geld moet betaal. Dit is belangrik om nie te veel skuld te hê nie, anders het jy nie genoeg om van te leef nie.

Die regering se finansies werk dieselfde as my en jou persoonlike finansies. As jou uitgawes meer as jou inkomste is, moet jy iewers geld leen om vir alles te kan betaal.

Die beste is dus om binne jou vermoë te leef, d.w.s. om nie meer uit te gee as wat jy verdien nie, en moenie onnodig geld leen nie.

Dit lyk egter nie vir my of ons regering goed vaar hiermee nie. Volgens ’n berig in Die Burger het ons land se skuld die afgelope vyf jaar met R1 800 miljard gegroei van R2 500 miljard in 2017 tot R4 300 miljard tans.

As ek kyk hoe ons regering met miljoene en miljarde omgaan, lyk dit my hulle het geen begrip van die verskil tussen ’n miljoen en ’n miljard (in Engels “billion”) nie.

Indien jy tienduisend rand (R10 000) per dag sou bestee, sal dit jou ’n bietjie langer as drie maande (100 dae) neem om een miljoen rand uit te gee. Om een miljard rand teen dieselfde tempo te bestee, sal jou nagenoeg 274 jaar neem.

Indien Suid Afrika, soos beweer word, 60 miljoen inwoners het, beteken R4 300 miljard skuld dat elke inwoner eintlik R72 000 skuld en dat ons elkeen nou gemiddeld R30 000 meer skuld as vyf jaar gelede.

Ongelukkig betaal nie al 60 miljoen inwoners van Suid-Afrika belasting nie. Dit word beweer Suid-Afrika het slegs sowat 4½ miljoen geregistreerde belastingbetalers van wie die regering genoeg belasting moet invorder om hierdie reuseskuld mee te delg – dit wil sê die regering sal moet poog om gemiddeld byna R1 miljoen belasting van elke belastingbetaler in te vorder net om sy skuld te betaal. Miskien help dít ons verstaan hoekom ons so ’n swaar belastinglas dra.

Volgens die begroting wat in Februarie in die parlement ter tafel gelê is, is die begrote bedrag wat Suid Afrika hierdie jaar aan rente en die terugbetaling van skuld moet bestee, bykans R302 miljard. Dink net wat kon daarmee gedoen word.

Nog is dit het einde niet. Die nasionale begroting dui ook aan die staat begroot vir nog R380 miljard meer uitgawes as inkomste hierdie jaar. Dit staan bekend as die tekort voor lenings. Dit beteken die regering beoog om hierdie jaar nog soveel ekstra geld te leen om al die huidige uitgawes te dek.

Kyk ons na die regering se vooruitskattings vir die volgende drie jaar, sien ons daar word telkens weer begroot vir ’n tekort van meer as R300 miljard voor lenings.

Die regering durf eenvoudig nie nog meer skuld aangaan nie – veral nie noudat die ramptoestand in KZN ook nog enorme uitgawes vir noodleniging verg nie.

Maar, ons regering wil steeds projekte aanpak wat enorme ekstra uitgawes impliseer. Ja, die regering wil steeds die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) van stapel stuur en ook die reeds enorme uitgawes aan maatskaplike toelaes verder uitbrei.

In Spreuke 22:7 sê die wyse Salomo: “Die ryke heers oor die arme; die lener is die slaaf van die man by wie hy leen.” Ons land is besig om so ver bo vermoë te leef dat ons die gevaar loop dat ons kinders deur ons skuldeisers oorheers kan word.

Wat staan die regering te doen om hierdie situasie te beredder? . Staak die enorme uitgawe aan reddingsboeie vir staatsondernemings en privatiseer hulle.. Vergeet van die voorgestelde NGV-program. Suid-Afrika kan dit nie bekostig nie.. Draai briek aan met maatskaplike toelaes. Dit is nie volhoubaar vir 4½ miljoen belastingbetalers om toelaes aan byna 20 miljoen mense te verskaf nie.. Verwyder die struikelblokke wat die bedryf van ondernemings kniehalter.. Los Eskom se probleme op. Hoe kan ondernemings produktief en winsgewend bly as hulle 3 tot 5 uur per dag nie krag het nie?. Verbeter die staat se dienslewering: Sars, Binnelandse Sake, munisipaliteite, ens.

Mog hulle die regte medisyne toepas.

*David Malherbe is ’n sake- en loopbaan-konsultant. Stuur gerus e-pos aan hom by davidmalherbe1@gmail.com

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article