Dink aan twee dinge wat jou as ’n landsburger erg trots laat voel om ’n Suid-Afrikaner te wees. Wat sal dit wees?
Ek klink seker nou soos een of ander geskiedenis-onnie wat hierdie vraag vir sy gr. 8-leerders vra. Dis egter die vraag waaroor ek die afgelope rukkie nogals baie wonder. In my soeke na ’n ordentlike antwoord op hierdie vraag, het my antwoord die volgende ingesluit – sport en die organisasie Gift of the Givers. Ons het die afgelope klompie jare maar swaar getrek op soveel terreine van ons samelewingsbestaan, daarom is dit soms nodig om net te gaan soek na daai dinge wat ’n glimlag in die hart en siel van ons menswees plaas.
Aan die sportfront kan die meeste van ons getuig dat dit darem nou wraggies lekker is as een van ons nasionale sportspanne goed presteer. Soos nou die ander dag se rugby-wen teen een van ons gedugte aartsvyande. Daai gevoel van nasietrots, samehorigheid en eenheid in verskeidenheid is eenmaal iets wat ons psige as Suid-Afrikaners positief beïnvloed. Vir daai 80 minute plus vergeet ons almal van al die galbrakery oor dit of dat en kan ons net die spel geniet. En ’n begeesterde Bok-span wat, so glo ek, net so intens bewus is van die feit dat hulle massief kan bydra om die gemoedere van alle landsburgers so ’n bietjie op te helder.
En as daai wendrie gedruk word . . . sjoe, dan moet jy ons sien feesvier! Die politiek rondom sport tersyde, besef ons al meer dat ons verskillende nasionale sportsoorte ’n beduidende rol het om te speel om ons as ’n nasie telkens te remind dat die moontlikheid van ’n reënboognasie nie dagdromery is nie. Ja, ons het nog ’n baie lang pad om te loop, maar laat ons ten minste net loop en nie gaan stilstaan en alles gelate aanvaar nie.
Wil of moet ek raak aan ons ander nasionale sportsoorte? Natuurlik. Daar is diesulkes wat waardige erkenning verdien en ook daardie trots by elkeen van ons inboesem.
Dan is daar die ander waaroor ons seker maar net kan wonder wanneer die wendroogtes gebreek gaan word. En vir enkeles bly ek hoopvol dat ons eendag ’n meer verteenwoordigende nasionale span sal kan sien en ondersteun, want gedoriewaar, teen dié tyd is ons almal al kurkdroog gewag vir ’n soliede wen op Afrika-bodem en internasionaal. Soveel so dat ek nie sommer gou weer die waka-waka song wil hoor nie. Intussen hou ons duim vas vir die span se vroulike eweknieë om die manne ’n ding of drie te wys oor hoe presies dit gedoen moet word om ’n wen op internasionale vlak te verseker.
Die organisasie Gift of the Givers aan die ander kant is vir my die weerspieëling van wie ons as Suid-Afrikaners is. Dit maak my so ongelooflik trots om te sien hoe wyd en ver hierdie organisasie sal gaan om van diens te wees aan diegene in nood. En met hul laaste vloedskade-uitreikaksie is opnuut bewys watter kaliber mense ons in hierdie mooi land van ons het. Dit wentel verder af na nog soveel kleiner organisasies en instansies in Suid-Afrika wat daagliks ’n enorme bydrae maak in die lewe van die armstes van die armes en wat met die min hulpmiddele tot hul beskikking wondere verrig, want dis wie ons is.
Eish, maar as ons eers weer in ander arenas, soos die politiek, moet gaan soek vir iets waarop ons trots kan wees, dan begin ’n man se moed weer sak. Moet ’n man weer diep en ver gaan grawe om iets positiefs te sê van ons manne en vroue wat daai stoele vol sit in die parlement of raadsale. En soos in die geval van daai sportsoort waar die bal na ’n doelhok geskop moet word, wil ek ook hier hoopvol bly dat ons iewers op die horison ’n draai in die gety sal kan bespeur. Hoe lui die spreekwoord – die hoop beskaam nie.
Tot dan bely ek met trots dat sport en ons omgee-organisasies vir my die vlag in ons land hoog laat wapper. En is dit vir my een groot lekkerte om vir vriend of vreemdeling te vertel van hierdie twee agente wat ons nasie met trots bou. In die maand waarin ons die lewenslange bydrae van wyle Madiba herdenk, leef sy voorbeeld en nagedagtenis voort in ons woorde en aksies.
Jy mag dalk jou lysie hê van die dinge wat jou trots Suid-Afrikaans laat voel, maar ek volstaan eers met my vyf sent in die beursie. Hoe dit ook al sy, laat ons egter nooit ophou om te gaan soek vir daai mooi dinge in ons land wat nasietrots en samehorigheid bevorder nie.
Saam met jou en miljoene ander Suid-Afrikaners is en bly ek trots Suid-Afrikaans!





