Die geneigdheid is om hulle partykeer eenkant toe te skuif, want hulle is veeleisend om te onderhou. Hulle is dalk nie meer so aktief en produktief soos vroeër nie en dan is daar die uiteindelike tydfaktor waarby baie van ons besige skedules blootweg net nie meer inpas nie. Die enkelkamertjie in ’n rus- of versorgingsoord word dan heel gemaklik die alternatief om die probleem te hanteer.
Daar is egter dié wat aan die teendeel glo en dit ook in die praktyk laat sigbaar word. Hulle is die groep wat die medaljes wil uitdeel; wat die waarde van hulle wat die skemerjare bereik het, omarm en met liefde die versorgingstaak verrig vir ons oumas en oupas, wat nog begenadig is om hul gryse jare met ons te wees. Ek wil deel wees van die groep wat medaljes uitdeel. Sit sommer ’n goue beker ook by, want ek weet ook van oumas en oupas na aan my wat ’n waardige voetspoor in my lewe gelaat het.
In ons land het ons te veel riller-stories van hoe ons senior burgers haglike omstandighede aan huis van naaste familielede moet trotseer – veral dié van ons bejaardes wat nie meer die fisieke krag het om soos vroeër die take te verrig wat hulle vir dekades kon regkry nie. Ek sidder as ek dink hoe baie van ons senior burgers vir dae en weke aaneen stoksielalleen aan hul eie lot oorgelaat word, want die kinders werk en kan eers ná werk die nodige kom doen. Vergeet maar van ’n gebalanseerde dieet wat gevolg moet word, want die staatstoelaag se rande moet elke maand tot die uiterste gerek word.
Ek kan my net indink wat deur die gedagtes van ’n ouma of oupa, wat die werklikheid van hul meer-jare moet aanvaar, moet gaan; hoe die hand en voet net nie meer die alledaagse dinge van vroeër wil of kan verrig nie en die oog nie meer lekker ver wil sien nie. Voeg daarby die geheue wat jou tydig en ontydig in die steek laat totdat jy maar net kan lag as jy ná die lang soektog ontdek dat die bril eintlik op jou kop sit. Dis daai laggie wat alles die moeite werd maak, maar ook die gees lig en lewend hou.
Laat my sommer dink aan ’n bejaarde paartjie wat ek gereeld op my eie daaglikse roetinestappies sien. Dis die mooiste gesig om te sien hoe die twee van hulle hand aan hand hul stappie na die winkels, vriende of vir oefening aanpak. Die werksywer wat op ’n daaglikse basis nog by hulle bespeur kan word, is om enige jongmens wat nie lief is om ’n bietjie hand aan die ploeg te slaan nie, tot stille skaamte sal dryf.
En elke keer as ek die twee van hulle in aksie sien, spreek ek my eie wens uit dat ek eendag hul voorbeeld sal kan volg. Die twee van hulle verpersoonlik vir my die gesegde dat ouderdom “slegs ’n syfer” is. Al is die gehoor van my voorbeeld-paartjie nie meer van die beste nie, is daar verder niks verkeerd met hul vlees en gees nie.
Nie alle senior burgers is so gelukkig soos my voorbeeld-paartjie nie. Vir ander is die gebrek aan fisieke welstand ’n luuksheid en word die behoefte aan versorging deur eie kinders ’n groter prioriteit. En dié wat nie kans sien vir die taak op hande nie, is dit seker beter om ouma en/of oupa in die sorg van ander te plaas, wat dit in die meeste gevalle met liefde en opregte omgee doen. Dis egter families wat self kans sien vir hierdie onvoorwaardelike liefdestaak vir wie ek die grootste respek het. Hierdie is die mense wat die medaljes en bekers uitdeel aan ’n ouma en ’n oupa vir die waardevolle rol wat hulle toe en nou nog vervul.
Met of sonder fisieke, verstandelike, geestelike of emosionele welstand van die bejaarde sal hierdie groep ons oumas en oupas met waardigheid en respek hanteer. Selfs al is die taak soms uiters veeleisend, bly dit ’n voorreg om dit te verrig. Dis die groep wat deur die liefdestaak erkenning gee aan oupa en ouma vir die waardes vasgelê, die kleinkinders help grootmaak het en hulself deur dik en dun opgeoffer het om die familienaam in ere te hou.
Die minste wat ons kan doen, is om nie te vergeet nie – veral nie van ouma en oupa nie.
Die woorde van ’n gryse ouma ’n rukkie gelede sal my altyd bybly: “Ek het vrede gemaak dat ek nie meer alles kan doen wat ek vroeër gedoen het nie, maar dis soms net die eensaamheid wat my erg vang. Ek mis my kinders en my kleinkinders. Ai, hulle is ook maar besig.”
Ek het geduldig verder geluister na een van haar gunsteling-doengoed hier skuins ná tagtig – gediggies skryf.
Oumas en oupas, julle verdien die medaljes en goue bekers, want ons as jul kinders en kleinkinders is wat ons vandag is deur julle “daar wees”.





