Die werklikheid dat sy broer nie meer met hulle is nie, is ’n bitter pil vir Macneil Baron om te sluk.
Sy ouer broer, Francolin McClaren Baron (34), het Sondag (15 Desember) by Hopefield op die R45 in ’n botsing verongeluk. “Ek wens steeds alles was net ’n droom. Dit is ’n pyn wat ek nie vir enigeen toewens nie,” vertel ’n bedroefde Macneil (28). Hierdie skokkende nuus is iets wat die familie net voor Kersfees moes hoor.
Volgens kapt. Tania Helfrich, ’n woordvoerder vir die Weskus-polisie- distrik, het die botsing omstreeks 18:30 in die rigting van Vredenburg gebeur.
“ ’n Hilux-bakkie met ’n sleepwa en ’n VW Golf op die sleepwa het op die brug gestaan waar die bestuurder besig was om ’n wiel om te ruil toe ’n grys Toyota RunX ook in die rigting van Vredenburg gery en vermoedelik teen ’n hoë spoed in die bakkie met die sleepwa vasgery het.”
Helfrich sê die passasier in die RunX, [Francolin Baron], is op die toneel oorlede en die bestuurder van die RunX is in die plaaslike hospitaal in Vredenburg met ernstige beserings opgeneem.
Die twee Vredenburg-inwoners Mynhardt en Elana Pretorius, wat met hul sewejarige seuntjie by die Hilux-bakkie was, sê hulle het geen beserings opgedoen nie. Mynhardt sê sy seuntjie was in die bakkie toe alles gebeur het en het net sy kop gestamp “en baie groot geskrik”.
Die Pretorius-gesin was van Bredasdorp af op pad Vredenburg toe nadat hulle oor die naweek aan ’n stampkarbyeenkoms deelgeneem het. “Ons was besig om die wiel om te ruil. Ek, my vrou en vriend Quinton was buite die bakkie toe die ongeluk gebeur het.
“Die kar van ons wat op die sleepwa was, is iets wat ons gebruik as ’n stokperdjie en daar is niks van oor nie.”
Macneil deel met Weslander dat hy hom op die oomblik toe hy die nuus ontvang het, dadelik na die ongelukstoneel gehaas het om seker te maak dat sy broer oukei is.
“Met my aankoms by die toneel was dit regtig hartverskeurend om te aanskou. Ek het so hulpeloos gevoel dat ek hom nie kon help nie. Terwyl ek daar gestaan het en hoor dat hy oorlede is, wou dit regtig nie insink nie. Ek het bly staan met die hoop dat hy wel sy oë gaan oopmaak. Om eerlik te wees, ek was nie voorbereid hiervoor nie. Ek dink nie enige mens sal ooit voorbereid wees daarvoor nie.”
Dit is veral moeilik vir die familie omdat die twee broers en hul ma hul pa en man van die huis presies 10 maande gelede op 15 Februarie ook aan die dood afgestaan het. “Ons is verpletter. Dit breek my hart om my ma in hierdie toestand te sien.”
Macneil beskryf sy broer as een wat die lewe vierkantig in die oë gekyk en alle struikelblokke wat die lewe na hom gegooi het, oorkom het. “Hy was ’n baie hardwerkende mens en het altyd sy beste probeer om homself as mens te verbeter – ’n baie liefdevolle en respekvolle mens met ’n goeie gesindheid. Sy toewyding is ook iets wat vir my baie uitgestaan het.”
Dié twee het ’n gemaklike verhouding gehad – een waarin hulle openlik met mekaar gepraat het en mekaar kon aanspreek wanneer een van hulle gefouteer het.
“Dit maak regtig seer om my enigste broer te verloor, en die wyse waarop dit gebeur het, maak nog seerder. Die tye wat ons saam deurgebring het, gaan ek die meeste mis. My hart gaan ook uit na sy vrou en drie kinders, veral aan sy jongste dogtertjie wat maar slegs twee jaar oud is. Ek bid dat die Here hulle in hierdie moeilike tyd vertroos en dat hulle moet vashou aan die mooi herinneringe aan my broer.”
Helfrich bevestig dat ’n saak van strafbare manslag ondersoek word.
Die roudiens sal op Donderdag 26 Desember om 18:00 by die All Saints Kerk in Hopefield plaasvind en die begrafnis op Saterdag 28 Desember om 10:00 by die All Saints Kerk.





