“Ons is almal in die [bollie],” het die alombekende tannie Evita Bezuidenhout, alterego van Pieter-Dirk Uys, ná afloop van haar optrede by Die Koelkamers in Paternoster aan Weslander gesê.
Uys het die gehoor met sy bekende en jare lange Tannie Evita praat Kaktus-praatjie bekoor. Die praatjie dek die gebeurtenisse van Jan van Riebeeck se koms aan die Kaap in 1652 tot Apartheid, kolonialisme, die Zuma-jare en die Afrikaners in ’n humoristiese toon.
Volgens Uys is daar te veel propaganda rondom geskiedenis, daarom het hy besluit om die geskiedenis vanuit tannie Evita se oogpunt aan mense te vertel.
“Ek bedoel, dis wonderlik as die Afrikaners skrik wanneer ek grappe maak oor Bloedrivier. Maar ’n mens moet net dink hoe waar is al hierdie stories wat ons geleer het tog – al hierdie propaganda en leuens, so waarom nie grappe maak daaroor nie?”
Tannie Evita meen mense moet self ondersoek instel om by die ware stories oor geskiedkundige gebeurtenisse uit te kom.
“Mense moet ’n bietjie huiswerk doen oor die dinge wat ons as bybel aangeneem het. Ons is grootgemaak met die storie van Bloedrivier en die Here en die ander goed. Enige geskiedenis is uit een sekere oogpunt geskryf, daarom moet mense huiswerk doen.”
Oor hoop vir Suid-Afrika en die toekoms meen tannie Evita almal is in die [bollie], maak nie saak waarheen ons probeer vlug nie.
“Daar is nie ’n plek waar jy kan wegkruip nie. Ek bly eerder in die plek waar ek familiêr is. Dit hang natuurlik ook af of jy kinders het – jy moet doen wat die beste is vir hulle, soos waar kan hulle die beste opvoeding kry. Ons opvoeding is swak en dit is een van die grootste sondes die afgelope 28 jaar.”
Volgens tannie Evita is Suid-Afrika se werkloosheidskrisis hartseer, maar sy sê “dit is die rol van die regering” om werk te skep.
“Ons jongmense sit sonder werk, en die gevaar is dat mense verwag die regering moet werk verskaf. Die staat skep nie werk nie; hy is veronderstel om ’n situasie te skep waar mense vir mekaar werk kan skep.”
Uys sê beurtkrag het hom en sy gemeenskap groot skade aangedoen.
“Die beurtkrag – ek kan nie vir jou sê hoeveel van ons mense in Darling swaarkry nie. Mense se yskaste het uitgebrand; sommiges het al hul vleis verloor wat in die vrieskas was. Dit maak vir my glad nie sin nie – waarheen is ons met hierdie ding op pad?”
Oor hoop vir die toekoms meen Uys “ons moet altyd optimisties wees”.
“Optimisme is die enigste medisyne om vir oorlewing te gebruik. Die Covid-19-pandemie het ons verwoes. Ons het mense verloor, kon nie totsiens sê nie – dit was baie persoonlik.
“Politici het dom geklink, onsin gepraat en vir ons gelieg. Kyk vir Mthethwa en Cele.”
Martin van Niekerk, ’n inwoner van Paternoster, het gesê die vertoning het hom weer nuwe insig en hoop gegee vir die toekoms en dat die vertoning ook goed is vir die plaaslike ekonomie.
“Dit is ’n ongelooflike ekonomiese inspuiting vir Paternoster aangesien baie mense van ver gereis het om na hierdie skitterende vertoning te kom kyk.”
Volgens Jan Malan, Die Koelkamers se direkteur, help kunstenaars soos Uys om Paternoster weer ’n aantreklike “naweekdorpie” vir besoekers te maak.





