’n Drywer van ’n boumaatskappy word gekeer om Paternoster binne te gaan omdat hy werkers van buite die dorp vervoer het.Foto: Alida Buckle


Die vrede in Paternoster rus op ’n tweekantige swaard met ’n gedeelte van die gemeenskap wat meen “onwettige immigrante” word van buite die dorp aangery om in die bou- en gasvryheidsbedryf te kom werk, en die werkgewers wat self wil besluit wie hulle in diens neem en wie nie.

Voortgesette spanning het Dinsdagoggend (1 Oktober) daarop uitgeloop dat groot klippe in die enigste ingangspad net voor die OK Minimark gepak is – die tweede keer vanjaar.

Sand in oë gegooi

’n Groep mense het enigiemand wat werkers die dorp wou inbring, gekeer – sommiges met knopkieries en stokke – en ’n string bakkies en motors vol werkers moes noodgedwonge omdraai.

Die onrus het verlede week Donderdag weer begin vlamvat by ’n bouperseel in Kalkoentjiebosstraat, Bekbaai.

Eric Whitaker (61), ’n geregistreerde bouer in die Kaap wat besig is om self ’n aftreehuis vir hom en sy lewensmaat, Debbie White (61), ’n onderwyseres, te bou, is deur ’n groep mans gekonfronteer oor die “onwettige immigrante” wat hy in diens het. Hulle is glo ook met hul lewe gedreig as hulle nie aan die groep se eise gehoor gee nie.

Volgens White het hulle twee werkers van Vredenburg en een van Paternoster in diens.

’n Nog groter groep mans het Maandag (30 September) weer by die bouperseel opgedaag. Hierdie keer is Whitaker en sy skoonseun nie net gedreig nie, maar sand is in hul oë gegooi. Die mans dring daarop aan dat hy net plaaslike mense in diens mag neem.

’n Groep inwoners van Paternoster loop deur die strate om hul ontevredenheid oor werk vir “onwettige immigrante” te kenne te gee.Foto: Alida Buckle

Whitaker het klagtes van intimidasie en afpersing by die Vredenburg-polisie gaan aanmeld.

“Ons wil net ons aftreehuis in vrede bou en kom aftree. Ons het werklik nie al dié onsin nodig nie,” het White gesê.

Volgens Macniel Kuilders, wat in Paternoster gebore en getoë is en voor gevat het met die besetting van die pad, sit baie van hul mense sonder werk.

“Elke dag word iets soos 42 mense van buite die dorp ingery om op boupersele, in gastehuise en in restaurante te kom werk,” het Kuilders gesê.

“Gee liewer vir ons plaaslike mense werk as om ‘onwettige immigrante’ werk te gee,” meen Kuilders. “Ons mense het nie werk nie.”

Pad weer oopgestel

Die groep stel ook voor dat dié enkelinge wat berug is daarvoor dat hulle by huise inbreek, werk gegee word, sodat hulle uit die kwaad kan bly. “Ons sal hulle monitor.”

Danksy die ingryping van munisipale wetstoepassingsbeamptes wat die situasie aanvanklik alleen gemonitor het, het dit nie geëskaleer toe een bouer amper deur die blokkade wou jaag nie. Hy is gevra om liewer te wag totdat die polisie opdaag.

Met die polisie se aankoms het Kuilders die gemeenskap se griewe aan hulle oorgedra.

Hoewel die pad hierna weer oopgestel is en die verkeer kon vloei, is ’n groot groep mense egter oor die veld na Bekbaai, waar werkers op boupersele glo met knopkieries en halwe bakstene geïntimideer is.

Vreesbevange inwoners het video’s uit hul huise gemaak.

Volgens ’n Weskusbouer, wat verkies om anoniem te bly, is dit nie so maklik soos om net eenvoudig iemand wat by ’n bouperseel opdaag, aan te stel nie.

“Ek het ’n gevestigde span waarvoor ek maandeliks ’n groot bedrag geld by die Boubedingingsraad betaal, sodat hulle geregistreer bly.

“Ek kan nie vir my span sê om by die huis te bly as ek werk in Paternoster kry nie. Ons kom al jare aan,” is die bouer se mening.

Volgens dié bouer is van sy spanlede wel immigrante, maar hul paspoorte en visas moet op datum wees by die Boubedingingsraad.

“Ons werk oral in die Weskus waar kliënte huise gebou wil hê en dit is nét in Paternoster waar ons dié soort probleme ervaar.”

Die bouer se toerusting het ook al onder vandale deurgeloop.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article