Onderwys was nog altyd deel van Thomanda Sheldon se lewe en daarom het dit haar geïnspireer om opvoedkunde as loopbaan te kies.
Volgens Sheldon is dit die harde werk, passie en deursettingsvermoë van onderwysers wat haar in hierdie rigting gestuur het.
“Soms besef onderwysers dit nie, maar hulle speel inderdaad ’n groot rol in hul leerders se lewe,” vertel Sheldon.
Sheldon gee vir die afgelope ses jaar onderwys by Diazville Primêr. Sy is ’n Afrikaansonderwyser en bied ook kreatiewe kuns vir graad 5-7-leerders aan.
“Ek is so bevoorreg om by die instansie skool te hou waar ek ook ’n leerder was. Dit is ’n wonderlike ervaring om nou my oudonderwysers my kollegas te noem en saam ’n verskil te kan maak.”
Sheldon het haar BA-graad in tale en kommunikasie aan die Universiteit van Wes-Kaapland verwerf. Sy het daarna haar nagraadse studies in onderwys by die Universiteit van Suid-Afrika voltooi.
“Ek glo onderwysers is ook lewenslange leerders. Ons moet aanhoudend ons kennis verbreed en aanhou studeer. Ek is tans besig met my honneursgraad.”
Sheldon noem dat almal deesdae so behep is om ’n sosiale media-invloeder te wil wees.
“As jy regtig ’n waardevolle verskil in iemand se lewe wil maak, is onderwys die beroep vir jou! Jy is die fondasie van alle ander beroepe.” Sy voeg by dat onderwys die grootste sendingveld is waar ’n mens kinders se lewens kan verander.
“As jy passievol is oor positiewe verandering, kan jy in die onderwys deel wees daarvan.”





