“Ek het ’n onderwyser geword omdat ek die gawe van God ontvang het om my beste vir leerders te gee.”
Ná 36 jaar in die onderwys is dít wat Cicel Cloete steeds passievol oor sy beroep maak.
Cloete is al die afgelope 11 jaar ’n onderwyser by Masiphatisane Primêre Skool in Vredenburg, waar hy Afrikaans-huistaal en ekonomiese bestuurswetenskap vir die gr. 7-leerders aanbied.
Hy dien ook tans as die waarnemende adjunkhoof van die skool.
Cloete vertolk ook ander rolle soos hoof van die Afrikaans-departement, hoof van alle inventarisse, veiligheidsbeampte van die skool en meer.
Om te kom tot waar hy homself vandag bevind, het harde werk en toewyding geverg. Cloete het ’n diploma in onderwysbestuur en ’n diploma in projekbestuur. Aanstaande jaar gaan hy verder studeer om sy diploma in menslike hulpbronne te verwerf.
Volgens Cloete is dit vir hom vervullend om te sien hoe sy leerders bo hul omstandighede uitstyg. “Wanneer ’n leerder na my toe kom en vir my dankie sê of ’n brief op die tafel sit en my ook bemoedig, gee dit my vreugde. Ons lewe in ’n land van duisternis, en wanneer ’n kind jou vertel hy of sy wil ’n dokter word of so, plaas hulle weer lig in daardie duisternis. Dis soms moeilik, maar dit is gewis die moeite werd,” vertel Cloete.
“Ek wil ook aan elke ouer en leerder meedeel om nooit jouself te vertel dat jy nie kan nie. Jy is geskep deur God en Hy dink baie van jou. Ouers, volhard en vertel jou kind elke dag dat jy lief is vir hulle en dat hulle tot alles in staat is deur die krag van die Here.”
Cloete voeg by dat ’n mens elke dag leer van mense en dat hy ook baie van sy leerders leer. “Leerders is geneig om te glo dat onderwysers nie van hulle leer nie, maar ek leer baie van hulle en maak hulle ook bewus daarvan.
“Dit is ’n groot verantwoordelikheid vir my as opvoeder om met leerders te werk. Daarom is voorbereiding vir elke dag so belangrik. Dit is vir my lekker as ek sien hoe my leerders selfstandig en verantwoordelik optree en ook vorentoe beweeg in die lewe.”





