Een van Pomario Private Skool in Citrusdal se onderwysers, Martelle Mostert, vier 11 jaar in die onderwys.
Sy bied tans fisiese wetenskap, lewenswetenskap, wiskunde en rekenaartoepassingstegnologie vir die graad 10- tot 12-leerders aan.
“In die verlede het ek dit ook baie geniet om vir die graad 8- en 9-leerders wiskunde en natuurwetenskappe te gee. Ek het ook al atletiek, netbal en hokkie afgerig en was betrokke by die opleiding en bestuur van die leiers vir die leerlingraad en VCSV, koördinering en beoordeling van wetenskap-ekspo’s en die bestuur van ’n rekenaarlokaal,” vertel Mostert.
Sy beskou haar roeping as onderwyser as haar primêre verantwoordelikheid om leerders voor te berei vir die volgende fase van hul lewe.
“Vir die akademie beteken dit dat ek vir leerders die geleentheid gee en die bronne beskikbaar stel om alles te leer wat hulle in die volgende graad of vir hul finale eksamen en studies gaan benodig.”
Sy wou aanvanklik haar liefde vir wetenskap en mense in ’n ander beroep uitleef, maar gelukkig het sy op onderwys besluit.
“Gedurende my studies het ek een vakansie baie tyd saam met hoërskoolleerders deurgebring. Die lewenslus, opregte vrae en honger vir leer wat uit hulle geborrel het, het my geprikkel en my van rigting laat verander. Ek glo ook die Here het lank voor dit reeds geweet dat dít is waar Hy my wil gebruik om Sy liefde uit te leef.”
Mostert vertel dit bring vir haar vreugde wanneer ’n leerder ’n persoonlike akademiese doelwit bereik. “Dis vir my baie spesiaal om te sien hoe tieners hul plek in die wêreld vind. Oudleerders wat suksesvol is in hul gekose velde of uitstaan as rolmodelle in hul gemeenskap is ook altyd ’n riem onder die hart.”
Sy voeg by geen ander beroep het soveel invloed op die vorming van ’n individu nie. “Indien jy ’n positiewe verandering in ons mooi nasie wil maak, is die klaskamer dalk die beste plek.
“Onderwys is ook ’n beroep wat jou toelaat om baie aspekte van jou menswees gelyktydig uit te leef. Die een oomblik wend jy elke greintjie intellek aan om ’n moeilike som op te los, dan luister jy weer na ’n gebroke hart, sing saam by ’n geesbou-geleentheid of ontwerp ’n advertensie vir ’n funksie. Never a dull moment”.





