Juffrou Ilse Oberholzer. Photo: Peartree Photography


Ilse Oberholzer weet al van haar universiteitsdae af dat sy ’n absolute passie vir kinders het.

“Op uitreike na Mosambiek en Malawi was dit altyd die stowwerige, ywerige kinderhandjies wat my vreugde gebring het,” vertel Oberholzer. Sy bied tans Engels as eerste en addisionele taal vir graad 4- tot graad 7-leerders, geskiedenis vir graad 5- en graad 6-leerders, lewensvaardighede vir graad 8- en graad 9-leerders sowel as toerisme vir graad 11- leerders by Pomario Private Skool in Citrusdal aan.

“My passie vir die buitelewe het gelei tot ’n buitelug-stapgroep, Love Outdoors Share Trails (LOST) vir Pomario en vriende van Pomario. Ons het al ’n hele paar roetes in die Cederberg gedoen. Die belangstelling en die kinders se uithouvermoë in die berg verbaas my elke keer. Dit is net een groot fees.”

Oberholzer sê sy het ’n onderwyser geword omdat dit vir haar ’n ongelooflike ervaring is om die “light bulb”-oomblik in iemand se oë te sien. “Of dit ’n tweejarige of ’n volwassene is – wanneer hulle ’n nuwe vaardigheid of veld van kennis ontdek, is dit die grootste motivering.”

Wat nog vir haar in haar beroep uitstaan, is die verbintenis met kinders oor die hele spektrum. “Elke kind is uniek en kom met sy eie bagasie skool toe. Ons kleiner groepe en ons familiebenadering by Pomario bied die geleentheid om ’n veilige vesting en vertroueling vir hierdie spesiale skepseltjies te wees.”

Soos met elke beroep het dit egter ’n paar uitdagings. “My grootste uitdaging is om my gesinstyd met my werk te balanseer. Onderwys het die vermoë om jou in te sluk en op ’n ongelooflike rit propvol opwinding en avonture te neem. Ongelukkig het dié beroep nie juis respek vir tyd nie.”

Terselfdertyd sê Oberholzer min beroepe bied soveel werkstevredenheid as die onderwys.

“Dit is ’n veilige omgewing met liefde en koestering en ’n omgewing van konstante leer en groei – nie net vir die leerders nie. Dit is die groot trekpleister. Of dalk is ek net erg bederf by Pomario, maar dit is my belewing van ons skool.”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article