Kan die groot voorgestelde salarisverhoging geregverdig word?

Die voorstel om die boonste perk van die munisipale bestuurspos se salaris met sowat R600 000 op te stoot, het hewige debat in die raadsaal ontketen.

Só sê Sammy Claassen, raadslid by die Saldanhabaai-munisipaliteit (SBM) vir die Patriotic Alliance (PA).

Die SBM-raad het op 30 Junie op ’n spesiale raadsvergadering bymekaar gekom om die salarisverhoging vir die munisipale bestuurspos te bespreek.

Die totale voorgestelde nuwe salaris vir die pos, wat ’n prestasiebonus insluit, is R2 188 879 vir 2022-’23. SBM is ’n kategorie 4-munisipaliteit wat bepaal die boonste perk vir die salaris vir die munisipale bestuurder is R1 538 800. Die vergoeding van munisipale bestuurders word uiteengesit ingevolge verwante munisipale wetgewing soos gepubliseer in die Staatskoerant 43122 van 20 Maart 2020 en die Staatskoerant 46062 van 18 Maart vanjaar.

Volgens ’n skrywe wat SBM aan Weslander gestuur het, kry die huidige munisipale bestuurder, Heinrich Mettler, tans R1 698 573. Dit is R159 773 meer as die boonste perk van R1 538 800 wat die munisipale bestuurder van ’n kategorie 4-munisipaliteit mag kry.

’n Kwytskelding bepaal dat Mettler die maksimum salaris van ’n kategorie 5-munisipaliteit kan kry. Die rede hiervoor het SBM in sy verklaring verduidelik. Die tekort aan senior munisipale bestuurders is bespreek by die onlangse forum van die provinsiale minister van plaaslike regering en burgemeesters wat in Junie gehou is.

Volgens SBM word senior bestuurders dikwels in die private sektor aangestel, wat ’n groot nadeel vir die plaaslike regering is. Vir Mettler het die vorige raad ’n aansoek om kwytskelding goed­gekeur, wat deur die provinsiale minis­ter van plaaslike regering onderskryf is, en deur die nasionale minister van samewerkende regering en tradisionele sake goedgekeur is. Die kwytskelding is deur die minister gemotiveer en goedgekeur aangesien Mettler ook as ’n direkteur in die raad van die Saldanha-nywerheidsontwikkelingsone (SBIDZ) dien en die rol vervul van voorsitter van menslike hulpbronne, vergoeding en etiekkomitee in die SBIDZ se raad van direkteure. Indien gefinaliseer en deur die minister goedgekeur, sal die nuwe munisipale bestuurder van SBM in die nuwe termyn toegelaat word om jaarliks tot R2 188 879 te kry. Hierdie kwytskelding sal dan van toepassing wees wanneer die huidige munisipale bestuurder se termyn van vyf jaar teen einde Oktober tot ’n einde kom en die aanstellingsproses vir ’n nuwe bestuur­der begin. Volgens Claassen het opposi­sie­partye hewig wal gegooi teen die voorgestelde “salarisverhoging” vir die munisipale bestuurder. “Ons het dit verwerp omdat dit te duur en onbekos­tig­baar vir ons belastingbetalers sal wees,” het Claassen gesê. Daar is ook ontevredenheid oor die hoë salarisse van ander senior amptenare en volgens Claassen raak die gaping tussen die inkomste van die topbestuur en die inkomste van gewone werkers te groot.

“Hierdie kwytskelding moet hersien of teruggetrek word omdat ons belastingbetalers nie die buitengewone las van hoë salarisse, bonusse en byvoordele van die munisipale bestuurders sal kan dra nie,” reken Claassen. SBM het egter in sy skrywe gesê hoër salarisse vir die topbestuur is tot die munisipaliteit en die gemeenskap se voordeel. “SBM word jaarliks ??geoudit en is onlangs aangewys as die tweede beste finansieel lewensvatbare munisipaliteit in Suid-Afrika, en die finansieel lewensvatbaarste munisipaliteit in die Wes-Kaap.

“Die munisipale gebied groei vinnig, en dit is dus baie noodsaaklik om ’n senior munisipale bestuurder aan te stel wat in staat is om hierdie prestasies vol te hou en dienooreenkomstig te begroot.

Die finale koste vir vergoeding aan die munisipale bestuurder sal egter deur die nasionale minister bepaal word, soos dit was met ons huidige posbekleër, meneer Mettler.”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article