Drie mense is die naweek in ’n botsing in Diazweg, Saldanha, beseer nadat ’n vermoedelik beskonke bestuurder voor aankomende verkeer ingedraai het.
Volgens kapt. Tania Helfrich, woordvoerder vir die Weskus-polisiedistrik, was ’n 33-jarige bestuurder op Vrydag 7 Julie om 19:40 van Diazville na die middedorp van Saldanha in ’n silwer Toyota Tazz onderweg. Die 28-jarige bestuurder van ’n rooi Opel Corsa het skielik reg voor die Tazz ingedraai, waarna die twee motors gebots het.
Helfrich sê dat een passasier in die Tazz lig beseer is, terwyl twee passasiers in die Corsa ernstig beseer is en hospitaal toe geneem moes word. Omstanders was geskok om ná die botsing van die beseerdes buite die voertuie te sien lê.
Polisiebeamptes op die toneel het die Corsa-bestuurder se bloed-alkoholvlak getoets waarna hy in hegtenis geneem is. Sy eerste verskyning in die Vredenburg-landdroshof is op 7 Desember.




