Ronn Stoffberg besig met ’n terug-skool-toe sny.


Netjies vir die skool of die werk, of dalk ’n iets kreatief vir die vakansie – dit maak nie saak nie, Ronn Stoffberg sal jou hare vir enige okkasie kan sny.

Stoffberg (22) woon in Steenberg’s Cove en dit is ook van hier waar hy sy barbier-onderneming bedryf.

“Ek het nooit gedink haarsny sou my passie word nie. Dit het toevallig gebeur toe een van my vriende my vra om sy hare te sny. Hy speel rugby en wou sy hare regkry,” verduidelik hy.

Aanvanklik was Stoffberg nie seker van die saak nie, want hy het net sy eie hare gesny, maar met ’n bietjie leiding van sy vriend was die haarsny suksesvol.

Dit was nie lank voor nog vriende vir Stoffberg begin vra het vir hul fades nie.

Nou, agt jaar later, is BigRon’s Fades ’n voltydse onderneming wat Stoffberg goed besig hou.

“Wanneer mense hul afsprake maak en dan hier opdaag, is hulle altyd verbaas. Wanneer hulle hier aankom, is my gereedskap uitgepak en ek is reg om te begin.

“Dit gaan alles oor kliëntediens. Ek het kliënte wat uit Saldanha, Laingville en Stompneus kom om hul hare by my te laat sny. Ek het nie geweet hierdie sou my passie word nie.

“Ek geniet dit om iemand in my stoel te hê – om iemand te help om hul beste te lyk.”

En indien iemand dit nie tot Stoffberg se stoel in Steenberg’s Cove kan maak nie, kom hy tot waar sy kliënte is.

“Daar is tye wanneer ek huisbesoeke doen en dan vra ek ’n ekstra geldjie vir die reiskoste, maar ek gee glad nie om nie.”

Stoffberg verduidelik baie van wat hy doen het hy oor die jare self aangeleer.

Die sakekant van die onderneming het ook natuurlik gekom, maar dit is veral die bemarking wat hy geniet.

TikTok-video’s, inskrywings op sosiale media en die ontwerp van plakkate vir BigRon’s Fades het alles deel van sy alledaagse lewe geword.

“Dit kom maklik. Ek het baie kliënte gehad wat my werk aanlyn gesien en uitgereik het. Hulle kontak my via Facebook en moedig my aan. Hulle sê ek het talent en wil graag sien ek maak ’n sukses,” sê Stoffberg.

Sy groot droom is om die onderneming uit te brei en “ver te vat”.

Deels van sy toekomsplanne is om ander jongmense te help.

“Ek wil jong mans help wat dalk nie skool gemaak het nie, wat nie ’n inkomste het nie. Leer om iets met jou hande te doen, soos ek,” raai hy julle aan.

Gemeenskapswerk is vir Stoffberg belangrik en ’n groot deel van sy onderneming. Hy gee dus op Vadersdag ’n gratis haarknip aan pa’s en help ook gratis die kleinspan om hul hare netjies te kry aan die begin van die skooljaar.

Benewens sy liefde en passie vir sy werk is Stoffberg ook ’n kranige rugbyspeler. Hy was deel van die Steenberg’s Cove-rugbyspan se agterlyn wat behoorlik naam gemaak het ná hul debuut in die liga.

Stoffberg sê hy moes hard werk om die onderneming ’n sukses te maak, maar nou, met al sy ervaring en belegging, sal hy nie BigRon’s Fades en sy passie opgee nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article