Daar word gewoonlik van ouers en onderwysers verwag om saam te werk om leerders in hul skoolloopbaan te ondersteun, maar wat gebeur as onderonsies tussen leerders en onderwysers ontstaan?
Na aanleiding van ’n onlangse voorval by ’n plaaslike hoërskool waar ’n onderwyser na bewering ’n leerder geklap het, het Weslander by die Wes-Kaapse departement van onderwys (WKOD) aangeklop om uit te vind wat elke party se regte en verantwoordelikhede is.
Volgens Millicent Merton, ’n WKOD-woordvoerder, moet ouers en/of leerders eers die skoolhoof nader indien hulle ’n onderonsie met ’n personeellid gehad het. “Indien die ouer/leerder nie tevrede is met hoe die saak hanteer is nie, kan dit by die distrikskantoor aangemeld word. Die Stop Misbruik-protokol moet deur die skool gevolg word,” verduidelik Merton.
Dit is egter ook soms leerders wat met onderwysers handgemeen raak en Merton sê fisieke konfrontasies is nooit die antwoord nie. “Die WKOD is bewus van die uitdagings rakende leerder-dissipline waaraan werknemers daagliks onderworpe is. Die departement moedig werknemers ten sterkste aan om ander opsies te oorweeg en hulle daarvan te weerhou om lyfstraf toe te dien aangesien dit ongrondwetlik, onwettig en onwaardig is.
“Selfverdediging en uitlokking sal slegs die sanksie beïnvloed, en nie die skuldigbevinding in ’n verhoor nie. Die WKOD moedig ’n kultuur aan om konflik deur middel van dialoog en bespreking op te los en ’n verantwoordelikheidsin en selfdissipline onder alle belanghebbendes in die skool te vestig,” sê sy.
Tydens die onlangse voorval het die leerder se ouers probeer om strafregtelike klagtes teen die onderwyser te bring, maar volgens die staatsaanklaer was daar nie genoegsame bewyse om die onderwyser strafregtelik te vervolg nie. Die onderwyser het wel ’n amptelike waarskuwing van die skool se beheerliggaam ontvang, siende dat die personeellid deur die beheerliggaam aangestel is. Merton sê wanneer ’n beweerde voorval gerapporteer word moet ’n hoof die direktoraat van werknemersverhoudinge in kennis stel.
“In die geval van werknemers wat deur die beheerliggaam in diens geneem is, moet daar seker gemaak word dat die beheerliggaam van die beweerde voorval in kennis gestel is.
“Dit is algemeen bekend dat die WKOD geen regsbevoegdheid het oor werknemers wat deur beheerliggame aangestel is nie. Voorvalle wat werknemers betrek wat deur die beheerliggaam van die skool in diens geneem is, moet (ingevolge die Stop Misbruik-protokol van die departement) aan die distrik se maatskaplike werker gerapporteer word, en/of aan die direktoraat van werknemersverhoudinge.
“Die rede hiervoor is: Om te verseker dat alle leerders die nodige berading en ondersteuning ontvang; en sodat die distrik se maatskaplike werker die saak aan die Suid-Afrikaanse polisiediens kan rapporteer, afhangende van die meriete van ’n saak.”
Merton voeg by die dissiplinêre proses, soos uiteengesit in Skedule 2 van die Wet op Indiensmening van Opvoeders, word vir WKOD-personeel gevolg indien daar gronde vir ’n klag van wangedrag is. Dissiplinêre optrede teenoor skoolbeheerliggaam-personeel word deur laasgenoemde hanteer.



