Om ’n verskil in die lewe van kinders te maak, is waarvoor Eloize Swarts van St. Helenabaai lewe.
Swarts dien al 11 jaar in die onderwys en is die afgelope drie jaar ’n leerondersteunings-onderwyser by Steenberg’s Cove Primêre Skool. In haar rol ondersteun sy ook eenmaal per week leerders by E.J. Malgarte Primêre skool en soms ook by ander skole.
“As leerondersteunings-onderwyser behels my werk ondersteuning. Ondersteuning neem baie verskillende vorme aan. Dit kan wissel van die instel van ’n voedingskema vir leerders wat honger is of die bou van opritte vir makliker toegang tot raad aan ouers of die wysiging van die kurrikulum sodat leer meer toeganklik vir leerders met leerprobleme word,” vertel Swarts.
Swarts het in 2006 in Bethlehem aan die Hoërskool Witteberg gematrikuleer. Daarna het sy onderwys in Potchefstroom aan die Noordwes-Universiteit studeer en haar studies in 2010 voltooi. Intussen was sy in 2007 sowat drie jaar in diens van ’n skool waar sy haar studies as skoolgebaseerde onderwysstudent voltooi het.
Swarts sê om leerders te ondersteun wat hindernisse tot leer in hul klaskamers ervaar, kan soms na ’n oorweldigende taak lyk. “Jy moet hierdie leerders met gestremdhede of hindernisse ondersteun deur elkeen van hulle se individuele behoeftes in ag te neem. Dit is belangrik om te onthou dat ’n mens die leerders met kennis en vaardighede moet toerus om in totaliteit te ontwikkel.”
Volgens Swarts is kommunikasie in onderwys baie belangrik. Kommunikasie help om ’n verhouding met leerders te stig. “Jy moet belangstel; die leerders moet weet jy gee om. Soos met enige verhouding is dit iets waaraan jy gereeld aandag moet gee. Jy moet opofferings maak en moeite doen om elke leerder en sy omstandighede te leer ken.”
Swarts sê dit is geen geheim dat onderwys ’n veeleisende beroep kan wees nie. “Met die konstante druk om goeie resultate te lewer, administrasie op datum te hou, dissipline op die regte wyse te hanteer, ondersteuning vir gesinskwessies te bied, diversiteit in ag te neem en jou eie persoonlike lewe te handhaaf, is dit nie ongewoon dat onderwysers uitbranding ervaar nie.”
Sy sê ook nie een dag is dieselfde as die vorige nie, maar om leerders te sien groei en ontwikkel, maak haar baie gelukkig. “Niks maak ’n onderwyser gelukkiger as om te weet hulle het gehelp om die leerder vaardighede te leer wat hy of sy in die toekoms gaan nodig kry nie.”





