Om haar leerders te sien presteer en hul ontwikkeling met haar eie oë te sien, is iets wat Chanté Achilles trots maak om ’n onderwyser te wees.
Dié inwoner van Steenberg’s Cove is ’n onderwyser by Laerskool H.P. Williams in St. Helenabaai en vertel dat sy die onderwys betree het omdat sy ’n groot liefde vir kinders deel. “Asook omdat ek ’n verskil in kinders se lewe wil maak, om hulle te help om in die grondslagfase goed te presteer – veral om goed te kan lees en te kan skryf,” vertel Achilles.
Sy het in 2020 by H.P. Williams Laerskool as ’n beheerliggaam-onderwyser aangesluit. “Ek het begin as ’n graad 4- Afrikaans opvoeder en het Engels, sosiale wetenskappe, natuurwetenskap en tegnologie ook aangebied. Toe Covid-19 toeslaan, moes ek van graad 4 na graad 3 skuif.”
Sy het in 2021 weer die geleentheid gekry om vir graad 4-leerders klas te gee. “Gelukkig was ek reeds bekend met die graad en het toe geweet wat van my verwag word. Ek het weer teruggeskuif om graad 3 klas te gee in ’n pos van die Wes-Kaapse onderwysdepartement.”
Achilles is ook die sekretaris van die dissipline- en veiligheidskomitee.
“My taak is om die koördineerder te help met die dissipline en veiligheid in die skool.”
Haar onderwys-reis het by Unisa begin, waar sy as afstandstudent aanvaar is. Om ’n student aan Unisa te wees, was glad nie maklik nie, al het dit so gelyk. “Ek moes vir vyf jaar sonder ’n dosent wat my met my studies help, wat ek soms nie verstaan het nie, klaarkom.”
Achilles sê sy het baie ondersteuning ontvang van die mense in haar lewe en sê haar ma was haar grootste inspirasie en steunpilaar.
“Ek dank die Hemelse Vader dat hy my deur my studies gedra het. Al die lof kom Hom toe.”
Achilles beskou onderwys as ’n geleentheid en instrument om die wêreld te verander.
“ ’n Skool is ’n gebou met vier mure en die toekoms daarom. Dit is ’n geleentheid vir lewenslange leer. Jy lewer ’n bydrae tot die holistiese ontwikkeling van ’n leerder. It is not a job, it is a way of living.”





