“In my 23 jaar in die onderwys het ek nog nie een dag siekverlof gevat nie,” vertel Vennessa Lewis. As dit nie ’n voorbeeld van toewyding is nie, wat is dan?
Lewis is ’n Graad R-praktisyn by Steenberg’s Cove Primêre skool in St Helenabaai en bied tans Afrikaans, Wiskunde en Lewensvaardigheid aan.
Lewis verduidelik dat voordat ’n mens verhoudings met enige leerder kan bou is dit belangrik om te verstaan dat elkeen uniek is, met sy eie behoeftes, omstandighede en persoonlikheid.
“Jy moet moeite doen om jou leerders en hul omstandighede te leer ken. Positiewe verhoudings met leerders is belangrik vir sukses. Wanneer leerders veilig voel en ondersteun word, is hulle meer geneig om spontaan deel te neem aan leer, wat natuurlik ’n beter uitslag van akademiese vordering tot gevolg het,” sê sy.
Lewis het die onderwys betree omdat sy ’n groot liefde vir kinders het en ’n verskil wou maak in hul lewens, iets wat sy al vir 23 jaar met trots doen.
Sy vertel dat daar niks so bevredigend is as wanneer ’n leerder sukses behaal nie. “Kinders gee jou ’n lus vir die lewe en jy leer om onselfsugtig te wees. Hulle laat jou toe om dinge te doen wat jou weer self soos ’n kind laat voel en hulle hou jou jonk.”
So vervullend soos die beroep mag wees, voeg Lewis by dat dit soms emosioneel uitputtend ook kan wees. “Dit is soms stresvol. Dissipline, om kreatief te wees en om op jou voete te dink is baie belangrik. Leerders ondervind gedragsprobleme as gevolg van hiperaktiwiteit, gebrek aan konsentrasie, buierigheid en huislike omstandighede.”
Hierdie uitdagings kry wel nie vir Lewis onder nie en sy pak dit dag vir dag aan. “Onderwys is nie ’n werk nie, dis ’n roeping. Iets waaroor jy passievol moet wees. Jy het ’n direkte invloed op die lewe van ander.”
Lewis glo dat in dié bedryf hou selfs ’n onderwyser nooit op om te leer nie. “Daar is altyd geleenthede vir jou om te groei en te ontwikkel.”





