Lemfvia Craill, die adjunkhoof van Hoërskool Vredenburg, waar sy ook ’n onderwyser is, is as finalis in die Solidariteit- onderwyser van die jaar-kompetisie aangewys.
Craill is een van die finaliste in die hoërskool-afdeling. Die doel van die kompetisie is om uitnemende onderwysers te vereer vir hulle onbaatsugtige bydrae om die leiers van die toekoms te help vorm.
Dit is vir Craill ’n groot eer om een van die finaliste te wees.
Craill sê elke onderwyser raak een of meer leerders op die een of ander manier. “Maar vir een ouer om melding daarvan te maak, is ’n bewys dat onderwysers tog iewers ’n impak op leerders het.”
Wat bygedra het tot Craill se benoeming is volgens haar een brawe en dankbare ouer wat die onderwysers wou bedank vir die rol wat hulle in hul kind se lewe speel. “Ek sou hoop dat my omgee en liefde vir kinders ook ’n aandeel hierin gespeel het,” vertel sy.
Craill vier 17 jaar in die onderwysberoep en is al nege jaar by Hoërskool Vredenburg, waar sy Afrikaans Huistaal en toerisme aanbied. Sy is ook die vakhoof van albei vakke.
“Ek geniet leerders se spontaneïteit en onverwagse eerlikheid. Ek is mal daaroor om saam met die leerders te lag en elke dag iets nuut (veral hul taal – die name en woorde wat hulle vir sekere dinge het) by hulle te leer. Die feit dat nie een dag dieselfde as die vorige is nie, is besonders.
“Ek geniet my kollegas en die feit dat alle onderwysers dieselfde unieke onderwystaal het waarmee hulle met mekaar kommunikeer. Die uitdagings wat die onderwys bied, herinner my as ’n ouer na die kardinale rol wat ouers in hul kinders se lewe vervul.”
As Craill die voorreg kry om te wen, vertel sy, wil sy dit graag aan al haar medeonderwysers opdra: “Elke onderwyser wat my onderrig het, sowel as enige toekomstige onderwyser. Ek sal my toekenning as ’n baken van hoop vir die onderwys as ’n kardinale en onlosmaaklike komponent van die samelewing wil oprig (figuurlik).”
Sy voeg by die prys sal op ’n persoonlike noot ook vir haar ’n beloning wees vir die harde werk en persoonlike tyd wat sy in haar beroep ploeg.




