Elke mens het ’n storie. Dis iets wat ek as jong joernalis oor die lewe besluit het. En, hel, is ek nuuskierig om mense se stories uit te vis!
Liefie sê altyd ek gaan reguit vir die diep sake. Dit is nie ék nie, is altyd my verweer, “mense gesels graag”.
Goeie joernaliste, bespreek ek en kollega Yaël juis dié week, is mense wat die besondere talent ontwikkel het om te luister.
Regtig fyn te luister, nie net vir die woorde nie, maar vir die nuanses, die liggaamstaal, dit wat die persoon eintlik wil sê.
Baie akteurs en aktrises lewer uitstekende spel, maar skud onwillekeurig hul kop “Nee” terwyl hul karakter “Ja” sê, of andersom. Net so gee mense hulself weg deur dit wat hulle nié sê nie.
Om jouself in iemand anders se skoene te plaas, om hul uitgangspunt en agtergrond te probeer verstaan, is deel van fyn luister.
Vir sommige mense is dit moeilik om hul eie gedagtes te onderskei van wat die persoon voor hulle besig is om te sê.
Ek hoor dit baie by radio-omroepers wat in plaas daarvan om ’n eenvoudige vraag aan die persoon met wie die onderhoud gevoer word te vra, eers ’n monoloog vóór die vraag lewer. Soms ook daarna, sodat die een wat moet antwoord en selfs die luisteraars aan die einde van die selfgesentreerde monoloog nie meer die aanvanklike vraag kan onthou nie.
It’s not about you is ’n leuse waarby gemeenskapsjoernaliste én radio-omroepers gerus maar kan hou.
Wanneer jy gemeenskapsjoernalistiek as beroep kies, besef jy dat dit ’n loopbaan is waarin jy jouself diensbaar aan die gemeenskap stel.
As jou hoofoorweging is om jou naam in ’n publikasie te sien, gaan liewer TV toe, begin jou eie pod-uitsending, word ’n beïnvloeder of kyk heeldag vir jouself in die spieël. Want jy gaan sukkel om aanklank by die volle spektrum van die Suid-Afrikaanse plattelandse gemeenskap te vind.
In vandag se gejaagde lewe sien ons net flitse van mekaar se lewe op Facebook, Instagram en TikTok. Meestal ook net dit wat ons aan mekaar wíl wys.
Ons weet nie meer hoe ons vriende hul koffie drink nie, want op WhatsApp kom daar nie suiker of versoeter by die bekertjie swart koffie nie. Daar is geen warmte in die duim-in-die-lug emoji nie.
Miskien verwarm die verskillende soorte hartjies darem nog mekaar se harte, maak ’n knipoog-emoji jou dag, maar dit maak nie op vir tyd wat nie saam deurgebring is nie.
Tyd waarin ons fyn na mekaar kon geluister het. Miskien iets by mekaar kon geleer het.
Sonder om mekaar in die rede te val, of dwarsdeur iemand anders se vertelling die sekondes af te tel sodat jóú storie kan begin.
Om fyn te kan luister moet ’n mens ook kan omgee oor ander mense se gevoelens, gedagtegange en denkrigtings. Sonder om te oordeel.
Haal diep asem terwyl iemand anders praat en bly liewer vir ’n oomblik stil as om in te spring met ongevraagde raad.
Luister net, veral as die gesprek jou ongemaklik maak. Net daai bietjie toegespitste tyd maak ’n groot verskil in iemand anders se lewe.
Wees nederig. Daar is ’n tyd om te spog oor jou eie prestasies, nie in ’n onderhoud waarvan die uitkoms vir ewig op papier vasgevang gaan wees nie.
Om fyn te luister beteken ook om tydens ’n gesprek die pieng van ’n WhatsApp-kennisgewing te ignoreer, tensy jy wag om te hoor van ’n geliefde in die hospitaal.
Wees teenwoordig in die oomblik, bý die mens met wie jy aan die gesels is.
Daar is ’n inherente behoefte by mense om gehoor te word.
Mense wíl hul stories vertel.





