Natasha Jantjies (regs) saam met haar dogter Amber.


Moedersdag word jaarliks oor die wêreld heen op die tweede Sondag in Mei gevier.

Weslander het ter viering van Moedersdag op Sondag 14 Mei met twee plaaslike ma’s oor moederskap gepraat.

Die plaaslike inwoners en moeders Natasha Jantjies en Shanelle Green sien dit as ’n seëning om ’n ma te kan wees.

Albei is moeders van dogters, en vir hulle is dit ’n groot verantwoordelikheid en belangrik om hul dogters in vrouwees groot te maak.

Green en Jantjies het vantevore elkeen ’n baba verloor, en hulle is onbeskryflik dankbaar vir die feit dat die Here hulle weer met kinders geseën het.

Volgens Jantjies het sy deur moeilike tye in haar lewe gegaan, maar haar swangerskap en die geboorte van haar dogter was ’n spesiale hoogtepunt in haar lewe. Green sê sy het verskillende verbintenisse met al drie haar dogters.

“Hulle is uniek en ek glo ek het ’n sterk band met elkeen. Ek het hulle van kleins af geleer om openlik te kommunikeer. Ek dink dit is belangrik vir ouers om openlik met hulle kinders te kommunikeer en seker te maak dit gaan goed met hulle,” vertel sy.

Jantjies glo daarin dat haar dogter eerste in haar lewe kom. “Ma-wees is spesiaal en ons moet ’n voorbeeld vir ons kinders wees. Ek kan my lewe nie sonder my kind insien nie. Ons praat oor alles en ek glo ons het ’n sterk band,” sê sy.

Moedersdagvieringe vir Jantjies sluit in om kerk toe te gaan en liefde en waardering van haar kind af. Dit maak haar dag baie spesiaal.

Green voeg by dat sy elke vrou vertel dat hulle geliefd, spesiaal en waardig is.

Albei moedig moeders aan om vas te hou aan die Here en hul Moedersdag te geniet.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article