Die Blitsbok Shilton van Wyk (24) in die middel agter met sy brons Olimpiese medalje voor die ­Laerskool St. Andrews.Foto’s: Alida Buckle


Met die Blitsbok Shilton van Wyk (24) se terugkeer na Saldanha ná ’n suksesvolle Olimpiese Spele in Frankryk is ’n behoorlike helde-ontvangs vir hom by sy alma mater, die Weskusskool, gereël.

Van Wyk het ernstig na al die rolmodelle en ondersteuners op sy pad na ’n Olimpiese bronsmedalje se toesprake geluister, maar dit was die spontane kinders voor die Laerskool St. Andrews in White City, waar hy leer rugby speel het, wat hom groot en breed laat glimlag het.

Hier het hy trots die medalje omhoog gehou terwyl kinders, onderwysers en gemeenskapslede opgewonde saam met hul held geposeer het.

Verskeie oud-onderwysers het ook gespring om saam met Van Wyk afgeneem te word.

Die burgemeester, André Truter, wat saam in die afslaankap-motor gesit en vir omstanders gewaai het, het Shilton vooraf gelukgewens met sy prestasie by ’n verwelkomingsgeselligheid wat tot sy eer by die Weskusskool gehou is.

Hier moes Shilton ook bontstaan om saam met aanhangers en ondersteuners afgeneem te word.

Ten spyte daarvan dat Shilton nie een vir al die vertoon is nie, is die geleentheid tot sy eer gereël, juis omdat sy ouers, Coby (59) en Blance van Wyk (54), en al sy oud-afrigters en oud-onderwysers so trots op hom is.

Shilton van Wyk en die burgemeester, André Truter, voor die Weskusskool in Saldanha.

Bertram Vraagom, voorsitter van die Saldanha-rugbyklub, het die gaste verwelkom, waarna verskeie sprekers Shilton gelukgewens het.

Shilton, ’n man van min woorde, het almal bedank vir hul ondersteuning.

“Ek waardeer al die ondersteuning, al die mense wat my deur alles gehelp het.” Hy het hom voorgeneem om in die gemeenskap terug te ploeg.

Hierna het die stoet motors met Shilton vooraan deur die middedorp gery, verby St. Andrews en uiteindelik by sy ouers se huis in Diazville gestop.

Pa Coby is al jare ’n rugbyafrigter by die Saldanha-rugbyklub waar Van Wyk ná skool in 2018 begin speel het.

Dié kranige Blitsbok-senter het in 2022 by die Doebai-toernooi vir die Blitsbokke gedebuteer.

Hy en sy spanlede het einde Julie derde geëindig in die manstoernooi vir rugby-sewes by die Olimpiese Spele.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article