Bly hoop en glo, 'n rubriek deur Andre Smith
Bly hoop en glo, ‘n rubriek deur Andre Smith

Daar is ‘n ou gesegde wat lui: ‘n Ander mens se boeke is duister om te lees. Dit is nou maar eenmaal waar, want elkeen van ons het ‘n storie om te vertel. In baie gevalle is daardie storie gevul met hartseer, swaarkry, lyding en lewensbeproewing wat voel asof dit nooit ‘n einde sal kry nie.

Diegene van ons wat daardie harde kant van die lewe ken, sal ook kan getuig van daai tye dat jy maar eerder die mooi en vrolike kant vir die wêreld probeer wys.

Niemand van ons wil geken word as die een wat voortdurend met die swaarkry van die lewe op sy of haar gesig rondloop nie. Ons druk maar deur, al maak dit seer.

Dit laat my sommer onwillikeurig dink aan die huidige winterseisoen wat ons tans in die Weskus beleef. Daai nat en ysige koue dae waar jy maar daai laag-op-laag-klere moet aantrek net om deur ‘n dag te kom.

Dan is daar die dae dat daai winterwind so erg waai dat dit voel asof dit tot in jou beendere waai.

Daai twee of drie dae voordat die sneeu sy verskyning op die bergpieke by Wellington, Stellenbosch, Worcester en Ceres begin maak, dan weet jy die winter is hier.

Liewe vriend, wees dankbaar as jy van die bevoorregtes is wat ‘n kaggel of ‘n verwarmer in jou huis het om jou teen die ergste koue te beskerm.

Wees ook baie dankbaar as jy bevoorreg genoeg is om ‘n pot sop op die stoof te laat prut, want daar is mense wat hierdie winter nie eens dáárdie voorreg het nie. Wees dankbaar vir jou elektriese kombers, lappieskombers, duvet of daai dik

komberse wat jy by die Egiptenare gekoop het en nog afbetaal. Jy’s inderdaad bevoorreg.

Met die huilende koue nagwind wat jy in die hartjie van die winter snags hoor, is daar baie wat nie daardie voorreg het nie.

Hy of sy is iemand se familielid en – net soos ek en jy – het hulle ‘n storie om te vertel oor omstandighede wat hul huidige situasie veroorsaak het.

Soms het hul keuses tot hul situasie gelei.

“Ek is Paultjie. Ek kon nie meer die harde lewe op die platteland vat nie. Daar is nie werk nie. Ek het Kaap toe gekom. Hulle het gesê hier is genoeg fabriekswerk. Dit is nie so nie. Nou slaap ek maar hier langs die muur.

“Ek het darem ‘n kombers en ‘n plastiekseil vir snags as dit so koud is. Hier is mense wat darem so af en toe kos uitdeel. Ek mis my mense, maar ek gaan maar nog ‘n tydjie hier deurdruk. Dalk is daar iemand wat vir my ‘n joppie het. Ek wil graag ‘n geldjie huis toe stuur.”

Of, “My naam is Gerty. Ek kon nie meer die seksuele mishandeling by die huis staan nie. Niemand wil my glo nie. Ek was maar net twaalf toe dit die eerste keer gebeur het. Ek het op sewentien weggehardloop. Ek sal nooit weer teruggaan nie. Hy bly nog in die huis. Hy’t my kindwees verwoes. Ek maak maar eerder my geldjie op straat. Jy weet, daai seerkry-letsel is so eina dat ek nie meer omgee om dit met nog seerkry te verdoesel nie. Ten minste kyk ons uit vir mekaar op straat. Met my geld wat ek op straat verdien, kan ek darem ietsie koop om te eet . . . en toiletware, want ek is ‘n skoon mens.”

“Ek is Shaun. Ek moes nooit ja gesê het vir daai eerste trek aan daai lollie nie. Dis nie lekker op straat nie. Ek wil baie graag huis toe gaan, maar my mense gaan my nie nog ‘n kans gee nie. Ek het opgemors. Ek het alles gesteel waarop ek my hande kon lê om te verkoop. Ek wil so graag net weer onder skoon beddegoed slaap. Myne is vuil. Ek het dit by die Heilsleër gekry. Snags byt die goggas en rotte my. Dié is nie ‘n lewe nie, maar ai . . . is so diep in die storie. Dis so koud snags. Ek kom uit ‘n goeie kerklike huis uit.”

“My naam is Jakomien. Ek het destyds in die pandemietyd alles verloor. Die strate van Kaapstad was my enigste uitweg. Goddank ek kon my kinders na familie in die Vrystaat stuur. Ek is al so moeg gesoek na werk. Niemand wil ‘n mens deesdae ‘n kans gee nie. Ek is seker maar te oud. Is vyf-en-veertig dan te oud vir ‘n werk in ons land? Ek kan goed kosmaak. Dis nie lekker op straat nie.

“Winter tye is die ergste.”

Mag ek en jy hierdie winter ‘n warm hart vir ons medemens op straat hê…

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article