Viervoetige vriende het onlangs ’n nuwe helper gekry danksy Weskus CVC se aanstelling van ’n nuwe veearts.
Weskus CVC is deur dr. Derette Kotze van Longacres-dierehospitaal begin. Die span van Weskus CVC is reeds sedert 2016 besig om broodnodige gefokusde dienste aan die streek te bied.
“Jaarliks lewer ons ’n diens aan sowat 7 000 honde en katte. Ons diens sterk vanaf Lambertsbaai, Velddrif, Vredenburg, Paternoster, Hopefield al die pad tot Riebeek-Wes,” verduidelik Ally Gericke.
Hoewel Kotze in Langebaan gebaseer is, werk die span nou saam met verskeie dierewelsynsorganisasies. Gericke sê die nood onder minderbevoorregte inwoners is groot, want wanneer huishoudings swaar kry, ly hul troeteldiere ook daaronder.
“Die welsynsorganisasies is verantwoordelik om die meeste van die grondwerk te doen en sterilisasies en mediese gevalle te bespreek. Dit sluit in diere-organisasies soos Leaps, Saldanha Animal Care, Hopefield Animal Care, Velddrif Animal Care, Raw, Piketberg-dieresorg en Lexi Gives Back,” sê sy.
Die werk wat Weskus CVC saam met die welsynorganisasies doen, is dus uiters belangrik vir die gemeenskappe waarin hulle werk. Om sy dienste so omvattend as moontlik te maak, het Weskus CVC in April dr. Luke Michaelides verwelkom. Michaelides is oorspronklik van George en het verlede jaar sy diensjaar in Peddie, Oos-Kaap, voltooi voordat hy na die Wes-Kaap teruggekeer het. Sy liefde vir diere is sekerlik aangespoor deur sy lewe op ’n wildplaas in Limpopo.
Deesdae is Michaelides verantwoordelik vir alle primêre dieresorg-gesondheid wat sterilisasies, inentings en ander behandelings insluit.
Hy sal ook een keer per week by die Longacres-dierehospitaal saam met dr. Kotze en haar span roteer.
Om op hoogte te bly van Weskus CVC-nuus, besoek gerus hul Facebookblad of skakel Ally (079 406 3584) of Kim (079 617 3598) direk.. Weskus CVC hou Saterdag 21 Mei ’n gesinsdag by Die Plaasmol ten bate van hul werk. Benewens vermaak, lekker kos en hope pret wat wag, word ’n 5 km-kleurpretloop ook aangebied. Skakel 066 128 3998 vir inligting oor die pretloop en 079 406 3584 vir die stalletjies.




