Noluvu Ludidi
Ná amper drie jaar as waarnemende skoolhoof by die Laerskool Vredenburg het Nicoleen Loubser amptelik die leisels as die nuwe skoolhoof oorgeneem.
Loubser het al diep spore by die Laerskool Vredenburg getrap en kom al ‘n lang pad met die skool aan. In 1989 begin sy haar skoolloopbaan by die Laerskool Vredenburg waar oor sy ure kan praat, veral oor die geleenthede wat vir haar en ander leerders geskep is deur sport, kultuur en akademie van die hoogste standaard.
Sy het in 1996 haar hoërskoolloopbaan by die Hoërskool Vredenburg begin, waar sy ook die geleentheid gehad het om met wonderlike onderwysers te werk en haar potensiaal te ontwikkel.
“Met die puik akademiese grondslag wat die Laerskool- en Hoërskool Vredenburg gelê het, was dit nogal ‘n uitdaging om ‘n studierigting te kies. My menseverhoudinge was beslis nog altyd ‘n sterk eienskap, maar my belangstelling in finansies en meganika het my keuse van onderwysstudie tot op die laaste nippertjie uitgestel,” vertel Loubser.
Ná hoërskool het Loubser in 2001 haar onderwysstudie aan die Universiteit Stellenbosch begin. “Vier ongelooflike jare vlieg verby en puik dosente soos dr. Pieter Jordaan, prof. Marie le Roux en dr. Jeanette Luttig-de Klerk oortuig my dat alle leerders en skole potensiaal het, maar dat goeie onderwysers en leierskap dikwels ontbreek en dit ons kinders in die steek laat.
“Geen onderwysbeurse was in my tyd van studie beskikbaar nie en om ‘n voorsprong op ervaring en finansies te kry begin ek in Januarie 2005 by Bei Men Elementary School, Hsinchu City, Taiwan, skoolhou. Vanweë my liefde vir Suid-Afrika se natuur en kultuur (en my hoërskoolliefde wat vandag my man is) keer ek terug en op 1 Januarie 2007 begin ek by die Laerskool Vredenburg skoolhou. Ek het in die Ooste geleer dat die optimale benutting van kontaktyd en skoolbywoning van kritieke belang is vir gehalte-onderwys.”
In 2013 is Loubser bevorder tot departementshoof en in 2017 tot adjunkhoof. Onder die hoofskap van Andre Müller het sy baie geleenthede gekry om deel te wees van besluitneming, beleid, beplanning, skoolverbete-
ring en die visie vir die toekoms van die Laerskool Vredenburg.
Met die aftrede van Müller in 2022 was die “plan” dat Loubser ‘n baie goeie onder-
steuner vir die nuut aangestelde skoolhoof sou wees. Maar weens verskeie redes is ‘n geskikte kandidaat nie in die eerste ronde gevind nie (Loubser het nie aansoek gedoen nie). ‘n Vakante skoolhoofpos is in Julie 2022 beskikbaar gemaak en die skoolbeheerliggaam, met die goedkeuring van die Wes-Kaapse Onderwysdepartement, het versoek dat sy die rol van waarnemende skoolhoof moet speel.
“Hoewel ek nooit gedink of gedroom het van skoolhoof word nie, was my doelwit in die onderwys nog altyd om ‘n verskil te maak. Ek reken dat ‘n mens vanuit die stoel van die skoolhoof seker die grootste geleentheid hiervoor sal hê. Ek weet ook dat ‘n goed funksionerende en presterende skool, soos die Laerskool Vredenburg, die produk is van jare lange insette en werk van my voorgangers – vir julle sal ek nooit in die steek laat nie.”
Loubser wil elke ouer en leerder van die gemeenskap verseker dat die waardes, dissipline en die hoë gehalte onderwys wat tans by die Laerskool Vredenburg heers deur haar en die personeel voortgesit sal word. “Ek gun dit vir my eie kinders (Pieter in gr. 6 en Jano in gr. 4) en elke ander kind in ons gemeenskap om soggens met ‘n huppel skool toe te kom, om lewenslange vriendskappe te bou, talente en gawes te ontwikkel en drome te droom wat die potensiaal het om waar te word.
“Die toekoms van Suid-Afrika wandel in die gange van die Laerskool Vredenburg en niks bring vir my meer vreugde as ons visie nie: Die Laerskool Vredenburg is verbind tot uitnemende onderwys met morele waardes en beginsels sodat elke leerder holisties kan ontwikkel.”






