Die oprig van advertensieborde soos hierdie by Te koop-eiendomme in die Saldanhabaai- munisipale gebied is nou onwettig.Foto slegs ter Illustrasie: Argief


Die oprig van advertensieborde voor ’n eiendom wat te koop of te huur is, was tot onlangs nog ’n daaglikse deel van eiendomsagente se werk om hul eiendomme te bemark, maar nuwe munisipale verordeninge maak dit nou onwettig.

Die Saldanhabaai-munisipaliteit (SBM) het aan die einde van 2022 die verordening insake buitereklame en advertensietekens 2022, waaronder eiendomsborde val, aangepas. Daarvolgens mag geen Te koop-borde meer voor enige eiendom gesit word nie.

Volgens Tereza Burger, kommunikasiebeampte vir SBM, het die munisipale raad na afloop van ’n statutêre, openbaredeelnameproses dié wysiging op 11 November 2022 goedgekeur en gepromulgeer (afgekondig).

Burger verduidelik dat individuele Te koop-borde nie meer toegelaat word nie, maar Op skou- en ontwikkelingsborde kan steeds sonder vooraf goedkeuring van SBM opgesit word, mits daar by die voorwaardes gehou word.

Net een skou- of ontwikkelingsbord mag per eiendom opgerig word, behalwe op ’n hoekerf, waar daar een bord aan elke straatkant opgesit mag word.

Die borde mag ook net van Vrydae 12:00 tot Maandae 12:00 daar bly.

Geen skouhuisteken mag op enige verkeersirkel opgerig word nie, maar elke agentskap mag een padaanwysingsbord by ’n kruising oprig; egter nié in die padreserwe of op die pad-eilande of middelmannetjie nie.

Voorts mag die skouhuisteken, baniere en vlae slegs opgerig word by ’n eiendom waar ’n gekwalifiseerde agent vir minstens twee uur oor die naweek teenwoordig is.

Alle skouhuistekens mag nie groter as 0,27 m² wees nie en moet aan rame of staanders geheg wees.

Burger sê daar is verskeie aspekte oorweeg voordat die verordening gewysig is:

. Die feit dat eiendomsagente herhaaldelik nie die beperking op die aantal borde per erf nagekom het nie en dit ook buite erfgrense, in die padreserwes en ander oopruimtes geplaas het.

. Die publiek het gekla oor die kumulatiewe visuele impak van so groot klomp borde op een hoop, soos byvoorbeeld by vakante erwe.

. Agente het weer van hul kant af gekla oor ander agente wat ná die tyd hulle borde kom opsit by erwe waar daar reeds ’n klomp borde is, waarna die aantal borde die beperking heeltemal oorskry het.

Volgens Burger is ook in ag geneem dat eiendomsagente deesdae sosiale media, die Internet en digitale en elektroniese advertensieplatforms soos Property24gebruik om hul eiendomme te bemark.

“Die plasing van ongemagtigde Te koop-borde kom egter steeds voor en moet dan deur wetstoepassings-aksies hanteer word.”

SBM moet ook voortdurend, volgens Burger, skouhuisborde verwyder wat lank ná die toegelate aantal dae steeds by eiendomme pryk.

In die Buitengewone Provinsiale Koerant 8679 van Vrydag 11 November 2022 waarin die gewysigde verordening verskyn het, word gemeld die raad wil met hierdie wysigings verseker die “stadsgesig” bly aantreklik en sodoende ook help om die Weskus-dorpe boaan die lys van toerismebestemmings te hou.

. Indien jy kommentaar wil lewer oor die wysiging, stuur ’n e-pos na nuus@weslander.co.za

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article