’n Historiese waterput op die Golden Mile-strand het weer nuwe lewe gekry nadat inwoners self besluit het om in te gryp.
Volgens die wykskomiteelid Jan Gibson is die waterput al vir jare in ’n slegte toestand en verwaarloos. Dit was eens op ’n tyd ’n varswaterpunt wat deur die San en Khoi gebruik is.
In die vroeë dae van die stigting van die visbedryf in St. Helenabaai het die put (daar was glo drie putte) as “Die Putte” bekend gestaan ??en is dit as drinkplek vir beeste gebruik.
“Mense het onder die lapa begin vuur maak, plaveisel was vermis, die dak was verwaarloos en selfs die raamwerk van die lapa het graffiti op,” vertel Gibson.
Hy meen die verfraaiing van die waterput is ’n voortgaande projek wat hulle graag voltooi wil hê voordat die feestyd begin en vakansiegangers die dorp besoek.
Met die hulp van Marc en Carina Verpoort van Property Finders Coastal, Konrad Rossouw van Rinkon Maintenance en Hanli de Wet het hulle ingespring om te begin met die restourasie en opknapping van die lapa.
Marc Verpoort sê hierdie projek was ’n goeie geleentheid om die gemeenskap saam te bring. Vir Verpoort was dit hartroerend om te sien hoe die gemeenskap hul hande opgesteek het om te help.
Tot dusver is plante geplant, bankies geskuur, herstelwerk aan die sinkplate gedoen sowel as geverf en skoongemaak. Gibson glo die lapa is aangenaam vir bejaardes wat baie rustig daar kan sit en die strand geniet. “Dit is ’n pluspunt vir ons in die gemeenskap.”
Gibson sê ander geskiedkundige bakens in die dorp loop ook onder vandalisme deur en gesprekke oor hoe om hierdie geskiedkundige punte te beskerm, is aan die gang.
Hy bedank elkeen wat ingespring het om die waterput weer tot sy volle glorie te bring en nooi die hele gemeenskap uit om deel te raak van die projek.





