Sy is die vrou wat vir langer as drie dekades van die toetskombuis tot in die veld gewone bestanddele in watertand-lekkerte omgetower het. Boonop laat sy jou glo jy kan ook ’n befaamde maestro in die kombuis wees.

Carmen Niehaus het reeds sowat 25 kookboeke die lig laat sien en jy sal haar Huisgenoot Wenresepte landwyd raakloop in elke kombuis wat sy sout werd is.

Eg Afrikaans, eg Suid-Afrikaans – met alles van bokkoms tot biltong tussendeur.

Nou het Carmen ’n nuwe koers aan die Weskus ingeslaan. Dié keer kook sy nie net voor die kameras nie, sy stel ook kykers elke week bekend aan van die land se mees geliefde en gewildste glanspersoonlikhede wat reeds deel van die huishouding is.

Leer ken ’n ander kant van Carmen wanneer sy jou van Donderdag 2 Januarie 2025 elke week op Lekker & Goed nooi om saam met haar gaste op ’n kosreis te gaan wat jou sal inspireer.

Haar eerste gas is juis ’n voormalige kollega, Arina du Plessis, wat deesdae die redakteur van Landbou Boerekos is. Sy en Arina het 20 jaar gelede laas saam aan tafel gesit en hulle het diep gedeel en wonderlike stories herleef, om nie van die midde-Oosterse lamsboud te praat nie.

Van Carmen se ander gaste sluit in bekendes soos Marciel Hopkins, Shari Kennedy, Candice Bester, Herman Lensing, Johnny Davids en Antoinette Kellermann.

Om gesonder te eet, is een van Carmen se voorkeure.

“Gesonder eet gaan allermins daaroor om jou te ontneem aan die lekkerte van kos. Inteendeel, as ’n mens ’n bietjie minder soet en ryk kook, is dit asof jy fyner proe en die verskillende lae geure ontdek.”

Sy fokus daarop om kos in sy eenvoud te waardeer.

“In Lekker & Goed kook ek ook met ons eie rooigoud – rooibostee; meer spesifiek Carmién-rooibostee met al sy verskillende natuurlike geurkombinasies om daardeur meer goedheid op vele maniere en ook geur aan kos te verleen. Ek beskou dit deesdae as my speserykas in ’n teekoppie.”

Vir Carmen is Lekker & Goed soveel meer as net ’n doodgewone kookprogram.

“Dit wys die besonderse mooi van die Weskus en saam met verskeie bekende persoonlikhede deel ons lekker onthou-tye van onvergeetlike ervaringe wat baie keer deur kos aangewakker word.”

Of dit in die kombuis of in die veld is – Carmen voel oral tuis. Sy geniet veral die energie wat sy vind wanneer sy in die veld kook.

Wat is Carmen se geheim? Sy sien die mooi en die goed in eenvoud raak . . . en sit dit met liefde op ’n mooi gedekte tafel vir jou voor.



.
Lekker & Goed
word van Donderdag 2 Januarie op kykNET (DStv-kanaal 144) om 17:30 uitgesaai, of stroom dit op DStv Stream.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article