Verteenwoordigers van die 16 spanne wat aan die Goldrush T20-reeks sal deelneem. Foto: Ernest Kilowan


Vredenburg/Saldanha se Krewe het nog ’n struikelblok oorkom om as die nuwe Boland-krieketkampioen gekroon te word. Die span het Stellenbosch Saterdag in dié se agterplaas verneder.

Die tuisspan, wat eerste gekolf het, was vroeg almal terug in die kleedkamer vir ’n skamele 58 lopies, wat vir die Krewe ’n teiken van 59 lopies vir ’n oorwinning gestel het. Die Krewe se boulers, met Riaan Smit (5/23) aan die spits, is goed bygestaan deur Imraan Manack (2/12) en Juanrico Voster met 2/16.

Smith het in sy vorige wedstryd ook vyf paaltjies platgetrek en kan dalk die sleutel hou vir die Krewe om as die nuwe kampioen gekroon te word. Die Krewe het daarna maklik die teiken bereik sonder om ’n paaltjie te verloor vir ’n oorwinning van 10 paaltjies met nog twee wedstryde oor.

Die Krewe, wat die slimmes van Maties nog twee keer moet pak, sal albei wedstryde teen die verdedigende kampioen moet wen om veilig te wees as die nuwe kampioen.

Die Krewe reis eerskomende Saterdag na Matieland en wag nog op ’n datum vir hul laaste tuiswedstryd teen die studente.

Nuwe kompetisie

Boland Krieket en Goldrush het onlangs ’n nuwe kompetisie, die Goldrush Boland Superliga (BSL), aangekondig, wat ná afloop van die ligas sal begin, en die Krewe het reeds hul deelname bevestig.

Volgens Boland Krieket se uitvoerende hoof, James Fortuin, sal die kompetisie uit 16 spanne bestaan, wat in vier afdelings meeding. Volgens Fortuin sal 10 premierligaklubs, vier promosieligaklubs en twee uitnodigingspanne in die korter weergawe van die spel meeding.

Die T20-toernooi met prysgeld van R84 000 is Vrydag (1 Maart) bekendgestel. Fortuin verduidelik die kompetisie sal oor drie naweke in Vredenburg, Paarl, Stellenbosch en Worcester beslis word, waarna die twee topspanne van elke afdeling sake op Bolandpark verder sal uitspook. Fortuin het ook aangekondig die Boland-unie is opgewonde oor die kompetisie en het bevestig dit kan net bande in die unie versterk.

Die wenner van die Goldrush BSL-toernooi sal met R45 000 wegstap, terwyl die naaswenner R20 000 in die sak steek. Die spanne wat derde en vierde eindig sal R10 000 en R5 000 verdien.

Vredenburg/Saldanha is in afdeling A saam met Wellington, Darling en Piketberg. Die toernooi begin Saterdag 16 Maart in Vredenburg met Vredenburg/Saldanha wat Wellington pak, terwyl Darling die span van Piketberg terselfdertyd op die B-veld sal pak.

Die Krewe sal dan Darling om 12:15 op die B-veld die stryd aansê voordat hulle Piketberg in die laaste groepwedstryd om 15:30 ontmoet.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article